Windhoek Metal Fest

DIE Windhoek Metal Fest is die eerste internasionale heavy metal mini-fees wat nóg in Namibië aangebied is. Gereël deur metal heads vír metal heads, vind die opwindende konsert môre aand in die Pakhuisteater plaas. Op die spyskaart is vyf internasionale, streek-, en plaaslike groepe wat ‘n wye spektrum subgenres van heavy metal uitvoer. Boonop kry aanhangers die geleentheid om groeplede te ontmoet, hul produkte te koop en lekker saam te kuier. Die groepe wat hul deelname bevestig het is Conquest for Death (Amerika), subMission (Namibië), Wrust (Botswana), Neblina (Angola) en Delusion Of Grandeur (Namibië).
• Conquest for Death (CfD) is ‘n vyfstuk thrash groep. Lede woon die wêreld vol, maar maak tyd om minstens twee keer per jaar te ontmoet, opnames te maak en te toer. Die lede is reeds jare lank vriende en het wêreldwyd saam met ander groep getoer en musiek gemaak.
• subMission is in Mei 2005 op die been gebring deur verskeie musikante wat reeds jare lank in die plaaslike musiektoneel bedrywig is. Die band, bestaande uit voormalige lede van bekende groepe soos Pyplyn, Arcana XXII, Obscured en Desert Velvet, speel moderne metal, deurweef met kragtige melodieë en hope energie. subMission bestaan uit Sakkie van Niekerk, Willie Grobler, Stefan Steyn, Sven Heussen en Hartmut Wenk. Hulle speel graag die musiek van Iron Maiden, Metallica en meer.
• Wrust, ‘n ekstreme metal band in Botswana, is in 2000 gestig. In die twee daarop volgende jare het groeplede gekom en gegaan, met net stigterlid Stux wat deurentyd gebly het. Wrust was in September 2003 die openingsgroep vir Sepultura toe dié groep in Durban opgetree het. Hulle was sedertdien ook trekpleisters by die Witchfest Extreme-fees in Johannesburg, en het hulle al ‘n verhoog gedeel met KONKHRA van Denemark en En - tombed van Swede.
• Neblina het in 2001 in Angola onstaan nadat ‘n groep studente weer tuis was na studies in Namibië en Suid-Afrika. Die eerste lede was Maruo Neb en Michel Fio en juis hulle het die idee van ‘n heavy metal-groep ontwikkel. Teen Janu arie 2005 het hulle vir die eerste keer in ‘n ateljee gekom en tien maande gewerk aan hul album Innocence Falls in Decay. Sedert dien het hulle ook in Duitsland opgetree. Hulle werk tans aan ‘n nuwe album, wat eersdags die lig sal sien.
• Delusion of Grandeur (DOG) speel covers, hoewel hulle geen gewone cover-groep is nie. Instede van die gewone ‘Smoke on the Water’ wat vir die miljoenste keer uitgevoer word, dek die band eks - klusief metal-snitte – sommiges bekend, ander minder bekend. Kombineer dit met ‘n vermaaklike (soms luidrugtige) vertoning, en jy het ‘n musikale optrede wat die alledaagse by verre oorskry. Groep - lede Karsten Rohlf , Johan de Jager, Roberto da Silva, Henning du Toit en Benny Hamilton is ook geensins onbekend nie, aangesien hulle baie ervaring saam met ander groepe gespeel het voordat DOG op die been gebring is. Kaartjies kos N$60 en is môre aand by die deure te koop.

Kategorie: