24.02.2005 Wen met Villa Verdi
SOWAT tien minute se stap van die besige Windhoekse middestad, is 'n landelike gastehuis waar net één ding gebeur sodra die statige ysterhek geruisloos agter jou toeskuif: jy is in vir 'n gróót bederf.
Dit is dié soort bederf wat al jou sintuie verkwik. Want Villa Verdi, geleë in Verdistraat, Windhoek-Wes, is nie net prentjieboek-mooi nie. Dit bied ook flinke en vriendelike diens, die restaurant, Café Verdi, sit watertand geregte voor en die welige tuin is salf vir daardie vermoeide nerwe.
Republikein, in samewerking met mnr. André Louw van Visions of Africa aan wie dié gastehuis behoort, bied 'n nag vir twee aan in die luukse suite op die terrein.
Al wat jy moet doen is om die wedstrydreëls hier onder noukeurig te lees, die inskrywingsvorm te voltooi en na Republikein te faks voor die sluitingsdatum. En wie weet. Dalk is jy en jou metgesel die gelukkige wenners.
Jou villa in Afrika
Villa Verdi het elf jaar gelede sy deure in Windhoek geopen. Die gastehuis is ingerig op drie aanliggende erwe, elk met hoë bome en 'n gevestigde, landelike gevoel.
Die veertien en suite-kamers het elkeen 'n eiesoortige styl. Die inkleding daarvan, asook dié van die ontvangsportaal en eetkamer, is 'n keurige vermenging van style uit landelike Italië met etniese elemente uit eie bodem.
Café Verdi, die al fresco restaurant in die tuin by dié gastehuis, het op 1 Julie verlede jaar geopen. Dit bied 'n volledige Engelse ontbyt, ligte middagetes en saans word 'n driegangete by kerslig voorgesit. Dit is oop sewe dae 'n week, met die uitsondering van Sondagaande. Bespreek liefs vooraf om teleurstelling te voorkom.
Café Verdi is ook net die plek vir 'n intieme verjaardagpartytjie, 'n verlowing, 'n doopplegtigheid of ander spesiale geleentheid, mits die groep nie groter is as twintig mense nie.
Dié maande wat val buite die besige toerisme-seisoen (dit is van Desember tot Junie) kry Namibiërs 50 persent afslag op die bed- en ontbyttariewe.
Korporatiewe kliënte wat werknemers van elders vir 'n maand of langer wil huisves, kan met die bestuur onderhandel om een van die drie selfsorgeenhede by die gastehuis te huur.
Hoewel Villa Verdi nie op 'n groot skaal voorsiening maak vir konferensies nie, kan kleiner vergaderings of slypskole daar aangebied word.
Wat kry die wenpaartjie
Indien jy inskryf, staan jy en jou metgesel die kans om aanstaande maand (Maart, uitgesluit die twee langnaweke) 'n nag vir twee by dié gastehuis te wen.
Die wenpaartjie sal vroeg die oggend kan aanmeld vir 'n dag van groot bederf in dié mooi omgewing. Hulle kan die dag luilekker langs die swembad deurbring, in die tuin sit en lees of op 'n middagbesoek aan die stad gaan.
Die prys sluit in bed en ontbyt. Alle ander etes is vir die wenpaartjie se eie sak. Die wenners moet ook op eie stoom daar kom.
|