11.03.2010 Web-applikasie spaar water
’n Web-applikasie wat wingerdboere inlig wanneer hul wingerde droog is, het met die louere weggestap in ’n kompetisie wat entrepreneurs aanmoedig om in die watersektor te belê, het organiseerders gesê. Fruition Sciences, wat in Kalifornië en Frankryk gebaseer is, was eerste uit 50 spanne in Imagine H20 se wêreldwye kompetisie wat daarop gemik is om ’n “Silicon Valley” vir water te bou.
Water is wêreldwyd ’n US$5 miljard onderneming, hoewel dit net tussen 0.5 en 1.0 persent van risikokapitaal en beleggings per jaar ontvang, ten spyte van ’n toenemende aanvraag na oplossings om watertekorte hok te slaan. Die prys beloon sakeplanne met die beste vooruitsigte vir deurbrake in die doeltreffende gebruik en voorsiening van water, en Fruition kon noemenswaardige waterbesparings bewys vir nege wingerdbouers in Kalifornië wat die monitor gebruik.
“In die watersektor wil die meeste entrepreneurs in verskeie markte werk, maar Fruition het begin met ’n uitstekende nismark waar hulle aan hul idee kon skaaf en daarna kan uitbrei na ander landboumarkte,” het Scott Bryan, van Imagine H20, ’n nie-winsgewende organisasie wat deur die Royal Bank of Canada en PricewaterhouseCoopers ondersteun word, gesê.
Die mede-stigter van Fruition, Sebastien Payen, het gesê dat hy ’n werklike uitdaging in die wynbedryf gesien het aangesien daar “geensins plantgebaseerde sensors is om waterbestuur te verbeter nie”. Hy het sy kennis in sensor- en inligtingtegnologie gekombineer met dit van mede-stigter Thibaut Scholasch se navorsing oor wingerd- en waterstatus om die web-applikasie te skep.
Australië se Rainwater HOG was die naaswenner met sy H20G watertenk, wat reënwater versamel en deur stedelinge gebruik kan word wat nie baie ruimte het nie. Die tenk word reeds in Amerika, Australië en Engeland verkoop en sal eersdaags ook in Indië en Japan beskikbaar wees. Kalifornië se WaterSmart Software was ook ’n naaswenner met ’n webgebaseerde applikasie wat watervoorsieners toelaat om hul waterbewaringsprogramme te verbeter.
Sodra dit beskikbaar is, kan die WaterSmart-applikasie huiseienaars help om meer as 11 000 liter water per jaar te spaar, wat in sommige gevalle kan lei tot ’n totale vermindering in watergebruik van 20 persent, het Imagine H20 gesê.
Imagine H20 bied kontantpryse sowel as sake regs-, rekeningkundige en belastingondersteuning asook toegang tot vennote, kliënte en finansierders ten einde idees vir die mark te ontwikkel. “Die prys is bedoel om ’n magneet te word vir waterentrepreneurs en om die finaliste blootstelling te bied tot die belegging- en sakegemeenskap,” het die voorsitter van Imagine H20, Tamin Pechet, gesê.
Nampa en Reuters
|