Wat is vetsug en hoekom is dit gevaarlik?

Vetsug verwys na oormatige liggaamsmassa en meer spesifiek ’n abnormaal verhoogde persentasie liggaamsvet. Hoe gebeur dit dat mense oorgewig raak en uiteindelik so vetsugtig word dat hul gesondheid daaronder ly? Maklik. Die hoofoorsaak van vetsug is ongebalanseerde eetgewoontes, oormatige alkoholgebruik en fisiese onaktiwiteit.

’n Kalorieinname wat groter is as die verbranding tydens metabolisme van die liggaam gee aanleiding tot die opberging van liggaamsvet. Liggaamsvet word rondom organe en ook onder die vel gestoor. Die liggaam het ’n normale persentasie liggaamsvet nodig om sekere funksies uit te voer. Wanneer oormatige liggaamsvet die liggaam strem, gee dit aanleiding tot toestande soos hoë bloeddruk, hoë cholesterol en ook suikersiekte.

In meeste gevalle van mense wat die genoemde toestande onder lede het, is vetsug ’n hoofoorsaak. Daar is enkele ander faktore wat kan bydra tot vetsug soos hormonale wanbalanse. Dit is egter nie die oorsaak van vetsug nie, maar kan ’n bydraende faktor wees.

Swak leefstylgewoontes gee aanleiding tot vetsug wat op sy beurt weer ander siektetoestande bevorder en ongelukkig is daar baie onwaarhede en kitsoplossings wat nie gesond is nie. Wat staan ’n mens dan te doen? Oefen drie tot vyf keer per week vir tussen 30 en 60 minute, vermy oormatige alkoholgebruik en raadpleeg ’n dieetkundige vir gebalanseerde maaltydbeplanning.

Jy kan ook jou naaste biokinetikus kontak vir professionele advies rakende gewigsverliesprogramme. Hierdie inligting is verskaf deur die Biokinetikavereniging van Namibië. Die kontakbesonderhede van biokinetikuste landwyd is in die voorste gedeelte van die telefoongids opgeteken. Navrae kan gerig word aan Die Biokinetikavereniging van Namibië, Posbus 9948, Windhoek.

Kategorie: