11.03.2010 Wat is gloukoom en hoe word dit behandel?
 Die invloed van gloukoom op sig.
Môre is Wêreldgloukoomdag en die Namibiese Optometriese Vereniging deel graag meer inligting oor wat gloukoom is. Gloukoom is ’n oogsiekte wat verband hou met die gevaarlike hoë opbou van interne oogdruk (intraokulêre oogdruk of IOD), wat permanente skade aan die optiese senuwee (die optiese senuwee wat visuele inligting aan die brein voorsien) kan aanrig.
Gloukoom is nie geneesbaar nie. Met onbeheerde en onbehandelde gloukoom sal jy in die toekoms merkbare verminderinge in jou sigvelde agterkom. Die progressiewe oogbeskadiging kan tot blindheid lei. Wat is die verskil tussen gloukoom en okulêre hipertensie? Okulêre hipertensie is net ’n ander term vir hoë IOD, maar dit is nog nie hoog genoeg om die optiese senuwee te beskadig of verlies van sig te veroorsaak nie.
Mense met okulêre hipertensie het ’n hoër risiko om gloukoom te ontwikkel. Dus is gereelde besoeke aan jou naaste oogspesialis of optometris noodsaaklik om die waarde te monitor. Gloukoom word veroorsaak deur die oogstrukture se onvermoë om ’n balans te handhaaf tussen die hoeveelheid intraokulêre vloeistof wat vervaardig word en die hoeveel vloeistof wat gedreineer word. Byvoorbeeld, ’n ballon benodig lugdruk om sy vorm te behou.
Net so benodig die oog interne vloeistof om die oogbolvorm te hou en om sig te produseer. As enigiets die strukture affekteer wat die druk se balans onderhou, kan dit lei tot gevaarlik hoë druk wat tot gloukoom kan lei. In ’n ballon verminder die druk deur dit af te blaas, maar in ’n oog met gloukoom hou die IOD aan met opbou wat veroorsaak dat die verhoogde druk op die optiese senuwee uiteindelik die senuwees permanent beskadig.
Om die oorsake vas te stel wat tot gloukoom lei, moet eers gekyk word na die anatomie van die oog en hoe die intraokulêre vloeistof deur die oog beweeg. ’n Deurskynende vloeistof, bekend as aqueous humor, word deur die silliêre liggaam (’n klein ronde liggaam agter die iris) vervaardig. Aqueous humor voorsien strukturele ondersteuning, suurstof en voeding aan die oog.
Die vloeistof vloei agter die iris, deur die pupil na die voorkamer (die spasie tussen die agterkant van die horingvlies en die voorste deel van die iris) van die oog. Die vloeistof moet dan deur die dreineringstelsel, bekend as die filtrasiehoek, beweeg. Die aqueous filtreer deur die hoek en dan deur die sklera (die wit gedeelte van die oog) na die netwerk van are wat buite die oog is. Enige steurnis in hierdie siklus veroorsaak verhoogde IOD.
Die simptome van gloukoom kan geklassifiseer word tussen die twee groot tipes, te wete: primêre oophoek gloukoom en toe- of vernouingshoek gloukoom. Met primêre oophoek gloukoom kom jy nie simptome agter totdat jou visie verlore is nie. Namate die optiese senuwee deur die gloukoom beskadig word, begin klein blinde kolletjies ontwikkel, gewoonlik in die syvisie. As die hele optiese senuwee beskadig is, is blindheid die resultaat.
Met toe- of vernouingshoek gloukoom is die volgende simptome opmerklik: dowwe visie, stralekranse rondom ligte, erge oogpyn, hoofpyne, maagpyn, naarheid en braking. As jy enige van bogenoemde simptome ondervind, is dit noodsaaklik dat jy so gou as moontlik by ’n oogspesialis of die ongevalleafdeling van ’n hospitaal uitkom om die voorkoms van blindheid te onderdruk.
Risikofaktore sluit die volgende in: ouderdom bo 45 jaar; familiegeskiedenis van gloukoom; suiker siekte; swart bevolkingsgroep; ’n geskiedenis van hoë IOD en oogbesering; hoë miopie (bysiende) of hoë hiperopie (versiende) – hoë hiperopie neig na skielike aanvalle van toehoek gloukoom; en die gebruik van kortisoon in die oog.
Op die oomblik is die mikpunt om deur behandeling en/of operasies die oogdruk te verminder of te stabiliseer. As hierdie mikpunt behaal word, kan skade aan die okulêre strukture – veral die optiese senuwee – verhoed word. Meeste behandeling vir gloukoom is ontwerp om die druk te verminder of te beheer.
Gewoonlik is oogdruppels die eerste keuse voordat operasies oorweeg word. Gedurende die oogoperasie (laser of ander) moet twee basiese resultate verkry word, naamlik om die produksie van aqueous humor te verminder of om die dreinering van hierdie vloeistof te vermeerder.
Dit maak egter nie saak wat die behandeling is nie: vroeë diagnose is die beste manier om blindheid weens gloukoom te voorkom. Dus is dit belangrik om gereeld na jou optometris of oogspesialis te gaan vir ’n volledige ondersoek.
|