24.07.2008 Vier kunstenaars se videowerk in NAGN
As deel van die Franco-Namibiese Kultuursentrum se Réunion-week, is die Nasionale Kunsgalery tot 6 Augustus die venue waar videowerke deur Jack Beng-thi, Eric Pongerard, Pascalle Simonet en Laurent Zitte te sien is. Aangebied op vier televisieskerms, vertoon die werke van dié vier van Réunion se mees gevierde kunstenaars, ’n verskeidenheid temas wat na aan die hart van die onderskeie kunstenaars lê.
Pascale Simonet en Jack Beng-thi werp oor die algemeen meer diametrale blikke op die liggaam, en eersgenoemde se video vertoon ’n interessante sensualiteit wat ’n droomagtige fantasie suggereer. Sy open haar siel vir die kyker, al weet sy dit mag onveilig wees. Aan die ander kant is die liggaam vir Jack Beng-thi ’n palimpses waarop die geskiedenis van deportasie, slawerny en ander vorme van dominasie wat kenmerkend is van die eiland, uitgekerf is.
Sy gefragmenteerde liggaam is die inkarnasie van alle inperfeksies en die krag van die Tamil, Bantoe, Mochimau of Swahili geeste. Hierdie unieke versameling elektroniese werke sal hopelik nuwe gedagtes en vars idees aan kykers oordra. Die uitstalling is in die boonste galery te sien.
|