11.03.2010 Tradisionele middels in Interpol se visier
 Beamptes by Indië se Kolkata- lughawe ondersoek tradisionele medikasie vir onwettige bestanddele.
Polisiemagte in 18 lande het ’n maandlange gekoördineerde veldtog gevoer teen gesmokkelde plante en diere wat gebruik word in verskeie vorms van tradisionele medikasie, het beamptes van Interpol gesê. Tydens die veldtog is beslag gelê op onwettige produkte met ’n handelswaarde van sowat €10 miljoen, volgens die internasionale wetstoepassers.
“Nasionale wildlewe wetstoepassingsowerhede, die polisie, doeanebeamptes en gespesialiseerde eenhede van 18 lande op vyf vastelande het saamgewerk as deel van Operation Tram, wat vanaf 1 tot 28 Februarie plaasgevind het,” het ’n Interpol-woordvoerder gesê. Britse polisie het ’n besigheid geteiken wat tradisionele Chinese middels verkoop, maar die woordvoerder het gesê die wêreldwye veldtog was gemik op alle gebruik van bedreigde spesies in geneesmiddels van verskeie kulture.
Vir eeue reeds maak tradisionele dokters van tiere gebruik om artritis te behandel, renosterhoring vir koors en stuiptrekking en beergal om infeksies te behandel, wat stropers aanmoedig om sulke rare diere te jag. In Rome het Italiaanse boswagters gesê dat hulle beslag gelê het op 30 000 produkte wat wildleweprodukte bevat en ’n waarde van nagenoeg €1 miljoen het nadat hulle ondersoek ingestel het na meer as 3 000 individue, vliegtuie, bagasie en houerskepe.
Lasbriewe vir inhegtenisneming is uitgereik teen 40 individue of maatskappye. “Ons het gesien daar is baie onwettige handel in Italië,” het die direkteur van Interpol in Italië, kol. Giuseppe Verrocchi vir AFP gesê. Hy het bygevoeg dat beslag gelê is op liggaamsdele van tier, beer en ietermagog asook seldsame plante.
“Die produkte is direk van Indië, China, Taiwan, Hongkong en Viëtnam ingevoer deur die hawens by Mestre, Trieste en Napels asook die lughawe in Milaan.” In Londen het die polisie ’n klopjag uitgevoer op ’n tradisionele Chinese medisynewinkel en dierespesies gevind wat blyk beskerm te word deur die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites).
“Die meeste tradisionele Chinese medisyne is heeltemal wettig. Maar daar is tog mense wat aanhou om handel te dryf in onwettige produkte wat bedreigde spesies bevat,” het sers. Ian Knox van die Britse wildlewe misdaadeenheid gesê. Die Britse polisie werk reeds sedert 1995 teen die gebruik van onwettige diere- en plantprodukte in tradisionele Chinese medisyne.
Engeland se Operation Charm het verlede maand by Interpol se Operation Tram aangesluit. Polisie in Australië, Kanada, die Tsjeggiese Republiek, Ecuador, Frankryk, Georgië, Indië, Italië, Nieu- Seeland, Nigerië, Noorweë, Portugal, Serbië, Slowakye, Suid-Afrika, Turkye en Zimbabwe het ook aan Operation Tram deelgeneem.
“Die belangrike kulturele, historiese en geloofswaarde van tradisionele medisyne word erken deur die wetstoepassingsgemeenskap,” het hoofkonstabel Richard Crompton gesê. “Maar die toename in die gebruik van bedreigde spesies in medisyne kan nie langer toegelaat word nie aangesien dit baie druk op die spesies se oorlewing plaas.”
Nampa en AFP
|