24.07.2008

Tiro betower met CD


Groot dinge is aan die gebeur vir Namibië se Tiro. Nie net is sy eerste CD op die rakke nie, maar kuier hy tans in Japan – en boonop is hy die enigste een in die groep van agt wat iets in Japannees sing! Tiro, ’n boorling van Otjiwarongo, se lewe het in die afgelope maande drasties verander, waarvan die grootste waarskynlik sy verhuising na Suid-Afrika is.

Sy “voog”, me. Evada van der Merwe, wat destyds as een van sy hoërskoolonderwyseresse sy talent raakgesien het, het saam met hom gegaan en vertel trots dat dinge werklik vir die jong sangsensasie aan die gebeur is. Oor sy CD, Speak to me, is Tiro en Evada ewe opgewonde. “Dit is ’n gospel CD met ’n paar crossovers.

Ons het op dié genre besluit omdat dit is waarvoor mense vra,” vertel Evada. Die CD bestaan uit 11 snitte waarvan drie oorspronklike nommers is wat spesifiek vir Tiro geskryf is. Hoewel oorwegend Engels, is daar ’n paar Afrikaanse snitte ook by. Dit is reeds plaaslik by Christelike Mobiele Lektuur en Musica-takke beskikbaar. Ten opsigte van die reis na Japan, kuier die Rainbow Stars – die groep waarmee hy reis – nog tot die eerste week in Augustus daar.

Dit is die vierde jaar dat só ’n groep na Japan reis om te sing. Die idee is om die Suider-Afrikaanse kulture daar ten toon te stel. Tiro het laat weet dat dit nogal warm is in Japan, maar dat hulle gehore trek van tussen 10 000 en 12 000 by elke venue waar hulle optree.

Hulle toer die land plat en ontmoet oral Baie Belangrike Persone. Vorentoe is daar nog groter dinge vir Tiro in die pyplyn. Daar is eersdaags onderhoude met hom in die Leef-tydskrif asook Rooi Rose. In Oktober neem hy aan die opname van ’n Noot vir Noot-program deel, hoewel dit eers vroeg in volgende jaar gebeeldsend word.

Vir die kleinskerm deins hy glad nie terug nie: hy was al immers te sien op Dis Hoe Dit Is Met Steve en meer onlangs ook op Kwêla. Intussen tree hy by al wat ’n fees op en is hy ’n gunsteling openingskunstenaar vir bekendes soos Nianell, Kurt Darren en vele ander. Die goeie nuus is dat maak nie saak waar dit is of voor wie hy optree nie, mense is gaande oor dié Namibiërtjie!