15.02.2007 Spec Savers nou oop
DIE eerste Spec Savers-tak in Namibië het verlede week sy deure in die hoofstad vir die publiek geopen en volgens me. Berdine Nolte, die franchise-houer vir Namibië, is hierdie maar die eerste van 'n rits takke wat sy en haar vennoot hoop om in die nabye toekoms te open.
Me. Nolte, wat twee jaar gelede haar optometrie-studies aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) voltooi het, is sowat ses maande gelede deur Spec Savers in Suid-Afrika genader om 'n tak in Windhoek te open. "Die res is geskiedenis," lag sy terwyl sy die deure na haar nuwe winkel oopstoot.
Hierdie is die eerste Spec Savers-tak buite die landsgrense van Suid-Afrika.
Soos in Suid-Afrika, is Spec Savers se doel in Namibië om bekostigbare oogsorg aan die land se mense te bied. Nie net is konsultasies sakpas nie, maar so ook hul produkte. Boonop is Spec Savers by alle mediese fondse ingekontrakteer.
Spec Savers is verbind tot die beskikbaarstelling van bekostigbare oogsorg sonder dat op gehalte en professionele standaarde ingeboet word. Die maatskappy is ook veral ingestel op oogsorg vir jonk en oud.
Vir me. Nolte is maatskaplike projekte ook na aan die hart en beoog sy om betrokke te raak by veral die Spesiale Olimpiese Spele se sportkinders.
Sonbeskerming is vir Spec Savers ook 'n belangrike prioriteit, dus verseker personeel dat alle lense wat die praktyk verlaat oor UV-beskerming beskik. Om dié rede het die pasiënt die keuse om getoetste sonbrille as deel van Spec Savers se diens uit te soek.
Wanneer kliënte vir 'n oogtoets by Spec Savers instap en 'n blik werp op die wye reeks rame en gepaardgaande produkte wat beskikbaar is, is dit die geleentheid om The Contact Lense Experience op die proef te stel. Beslis iets wat elke persoon vir hom- of haarself moet ervaar!
Goeie nuus is dat alle brillense by Spec Savers gewaarborg is en dat alle kinders onder 12 hul brillense verniet kry.
Volgens me. Nolte beoog sy om in die nabye toekoms Spec Savers na die landelike gebiede uit te brei.
Die winkel is verlede week deur mnr. Flashman Anyolo van die Blindheidvoorkomingsdepartement van die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste geopen.
Spec Savers, geleë in die Kaiser Krone-sentrum, word bestuur deur me. Ciske Smith, wat daarna uitsien om na Namibiërs se sig-gesondheidsbehoeftes om te sien. Vir meer inligting, kontak Spec Savers by 081 253 3611.
|