
Die sjefskool cum kuierplek “shed”, wat vroeër vanjaar sy deure geopen het.
Toe Annette de Waal, bekende spysenier van Windhoek, einde verlede jaar haar maatbekers, klitsers en bakpanne weggepak het, was dit nie omdat sy moeg was vir kosmaak en bak nie. Inteendeel, sy het ander planne met kos gehad. Ná 15 jaar as een van die suksesvolste spyseniers in die hoofstad, het haar kop – én haar hart – in ’n ander rigting gestaan.
Dit was om aan die sjefskool waaroor sy lank reeds droom, gestalte te gee. Dit sou aan haar die geleentheid bied om haar passie vir lekker kos, vir mense, vir kuier, leef, geniet en lag, met ander te deel. Met die hulp van haar argitekdogter, Deidre, is die buitegeboue agter haar huis in Academia omskep in ’n droommooi opleidingslokaal.
Groot beton werkblaaie met verskillende “kookstasies” is opgerig. Elk van dié stasies is toegerus met ’n eie gasstoof, wasbak en gebruiksartikels. Die lokaal is ruim en goed belig en teen die mure pryk lewensgroot foto’s van haar kleinkinders wat hul lywe sjef hou.

Annette de Waal
Dié oudonderwyseres se sjefskool, bekend as Annette se Shed, het in Mei vanjaar amptelik geopen. Annette vertel: “Ek bied basiese tot gevorderde kooklesse aan. Hierdie lesse kan aangepas word na gelang van die kliënt se behoeftes. Kooklesse vir huishulpe val ook in hierdie kategorie.”
Die ander spesialiteit is om kooklesse volgens ’n tema aan te bied.
“In hierdie klasse leer ek kliënte om byvoorbeeld pastageregte te maak, of met filo te werk of brode te bak. Die eienaars van jagplase en gastehuise sou hul personeel vir dié lesse kon stuur om sê nou maar interessante slaaie of lekker nageregte te leer maak.”
Die laaste, en volgens Annette die opwindendste, van haar pakkette is die spanbousessies.
“Korporatiewe instellings kan byvoorbeeld van hul personeel stuur om mekaar om die kospotte die stryd aan te sê of kompetisies hou waar groepe verskillende mandjies met bestanddele ontvang waaruit hulle iets interessants moet optower.”
Sy sê boekklubs of gesinne of groepe vriende kan dit ook gebruik as ’n geleentheid om ’n verjaardag te vier, bande te smee of sommer net pret te hê.
“Onlangs was hier ’n groep vriendinne vir ’n verjaardagpartytjie. Hulle het in groepe verdeel en terwyl hulle wyn drink en kuier, het hulle ’n voorgereg, hoofgereg en nagereg gemaak voordat hulle aangesit en dit geniet het. Hulle het so gelag en gesels en gekuier – dit was héérlik!”
Vir sulke geleenthede dek Annette ’n groot tafel buite onder die bome waar die groep ná afloop van die kookles kan kuier.
“Daar is iets terapeuties aan die kookkuns wat nie onderskat moet word nie,” sê Annette.
“Daarom wil ek hê elke kookles moet ’n spesiale ervaring wees. Dit moet ’n geleentheid wees om die lewe te vier.”
Annette se Shed is geleë in Socratesstraat 26, Academia. Vir meer inligting, bel haar by 061 24 3816 of 081 289 2816 of besoek haar webtuiste by www.annettedewaal. com.