Sjoe, is ek nou beïndruk met Ses Snare se CD, Live @ the Performer Theatre. Eintlik is ek meer as beïndruk, ek is heeltemal oorbluf. Ek sou nooit kon dink dat ’n regstreekse opname so mooi op die oor sou val nie – miskien sou ’n opname in ’n ateljee die atmosfeer van die akoestiese CD heeltemal vernietig het. Dit is ’n fantastiese werk, een waarna elke man op straat sal kan luister.
Ses Snare, wat bestaan uit vyf kitare en ’n tjello en ses mans met rasperstemme wat rillings by jou ruggraat laat op en af hardloop, is die breinkind van Mel Botes en Mathys Roets. “Mathys en Mel in Memel – dis waar dit alles begin het”. Vir die wat nie weet nie, Memel is ’n klein dorpie in die Vrystaat wat spog met ’n pad wat sekerlik meer slaggate het as al die paaie in die Vrystaat saam. Volgens die omslag was die ouens net “veronderstel om ’n paar keer saam te ‘jam’”.
Die ouens is nou Mathys, Mel, Thean Kotze, Blackie Swart, Leon Ecroignard, Wouter van der Venter en Giep van Zyl. Maar na ’n hele paar stampvol vertonings, ’n CD en ’n DVD, sal die ouens (soos hulle na hulself verwys) nog hopelik lank saam musiek maak. Die CD is ’n voorbeeld van ’n goeie balans tussen sang en instrumente, en op hierdie wyse word goeie musiek geskep.
Dis nie net die manne se besonderse stemme wat mens betower nie, maar hul vaardigheid met hul onderskeie instrumente ook. Die Afrikaanse liedjies wat deur die kunstenaars self gekomponeer is, is baie tong in die kies en lekker om na te luister.
“Straatjie in die dorp” en “Warm” het die gehoor in die Performance Theatre laat skater met die skerp lirieke. En die Engelse liedjies was fantasties – ’n mengelmoes van blues, folk en goeie rockmusiek. “Hotel California” was absoluut fantasties (al word hierdie beskrywing nou bietjie vervelig).
Ek het lanklaas so ’n goeie eie-weergawe van ’n liedjie gehoor. Vaya Con Dios se “Nah Neh Nah” was ewe goed verwerk en die gehoor het heerlik saam met die kunstenaars gesing. Ek moet egter bieg en erken dat dit die kitaarspel was wat die “show” gesteel het.
Dit het die atmosfeer geskep (mens kan jou amper verbeel jy sit in ’n donker, rokerige klub met ’n whisky en net vyf ander mense) en het die sangers se stemme so gekomplementeer, dat mens eintlik wonder hoekom’ n ander instrument ooit nodig sal wees. Dis ’n wonderlike luister-CD – ’n CD wat jy in die kar se speler indruk terwyl die wêreld verby jou vensters flits.