24.07.2008

Reggae in sy bloed


Laebo is die nuutste reggae-sensasie om Namibië met sy musiek te tref. Boonop hoop hy om binnekort sy eerste album, Reggae is here to stay, vry te stel. Volgens die kunstenaar wat op Rundu gebore en getoë is, het hy nie beplan om musiek te maak nie. “Maar toe Lucky Dube so wreed vermoor is, het ek begin wonder na wie se musiek ek nou sou luister.

En skielik, uit die bloute het ek die musiek in my are gevoel en begin klawerbord speel,” vertel hy. Reggae is here to stay bestaan uit 11 snitte in Engels, waarvan drie “Believe in Yourself”, “Don’t Worry” en “Trabalism” op verskeie plaaslike radiostasies lugtyd geniet. “Ek hoop veral Afrikaans-sprekendes sal mooi die laasgenoemde snit luister,” sê hy. Hy praat self vlot Afrikaans. “Ek het dit tot in matriek gehad!” sê hy trots.

Laebo sê dat al sy musiek belangrike boodskappe oordra. “Politieke kwessies en sosiale probleme word aangespreek, maar daar is ook ’n paar love songs tussenin. Ek het alles self en van die hart uit geskryf,” sê hy. Meer nog, sê hy, kan reggae-aanhangers beslis iets anders as die gewone verwag. “Dis musiek vir almal… Ek wil hê dat mense mekaar verby kleurgrense moet sien – as mense wat almal deur God geskape is.

Ek dink my musiek gaan moeilik wees om te ignoreer!” Vorentoe het hy groot planne: “Ek het al musiek gereed vir komende albums, en ek kan waarborg dat my ondersteuners nie teleurgesteld sal wees nie.” Om al sy musiekdrome te verwesentlik, is Laebo egter op soek na beleggers, borge en mense wat hom kan bystaan.

Mits hy goeie ondersteuning ontvang, hoop hy om sy eerste album landwyd bekend te stel, “van Keetmanshoop tot Katima Mulilo.” Tog sou hy dit nie graag wou aanpak sonder die nodige instrumente nie. “Dus, as iemand klawerborde, kitare, tromme en perkussie-instrumente het wat ek kan gebruik, sal ek baie bly wees,” sê hy. Nadat die album in Namibië bekend gestel is, wil hy ook dit na Angola, Zambië en Botswana neem. Kontak Laebo by 081 300 9400 of laebo82@ yahoo.com