Omstredenheid vier hoogty in die oliewerke wat Pedro Vorster in die Omba-galery in Windhoek vanaf 9 tot 30 September uitstal. Die botsende elemente kom voor in die werke waar ’n kryger op die punt staan om of sy bruid te vergewe of om haar dood te maak.
Die uitstalling is getiteld Forms of Symbolism. In ander werke word die konflik voortgesit soos met “Cherise of die blou Naak figuur” waar die ongemaklike blou vrouefiguur sterk aan die Boeddhistiese god Krishna herinner. Die vleeslike figuur wek die dualiteit van spiritualisme teenoor die erotiese op.
“Spirituele groei is vir my slegs moontlik met konflik waarin oorwinning of selfs die nederlaag groei moet bring. Die konstante konflikte van goed teenoor kwaad, manlik teenoor vroulik, botsende ideologieë, selfs rassekonfrontasies hou ons skerp,” sê Vorster.
“Selfs oorgawe kan ’n soort van groei inisieer”.
Hierdie botsings kom in sigbare en subtiele simbole in sy werke voor. Die groep portrette van vroue met lang grasieuse nekke is juis uit geslagsvermenging gebore.
’n Sekere volk in Noord-Afrika het die gebruik dat die mans hulle swaar in oker en donkerblou grimeer. Die mans is egter nie verfynd nie. Hul tradisie om skoonheid uit te leef, is bloot andersom as in ons gemeenskappe. In dié volk bly die vroue die vales.
“ Die ander koppe is egter van regte vroue,” spot Vorster.
Die olieverfskilderye het ’n wye aanslag, van abstrak tot impressionisties waarin hy sy botsende temas plaas, maar die deurlopende tema van dualiteit, sy vormgebruik en kleur, bind die werke tot ’n eenheid.