Kollig


Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

11.03.2010

Ontbyt, ontbyt, ontbyt


Ontbyt is die belangrikste ete van die dag. Maak seker dis gesond!

“Breakfast” is ’n goeie beskrywing vir hierdie maaltyd – jy moet immers die vas breek! Dieetkundiges beskou ontbyt as die belangrikste ete van die dag. Wanneer ontbyt binne 40 minute tot ’n uur na jou opstaantyd geneem word, help dit om jou metabolisme (hoe vinnig en doeltreffend jy jou kos verbrand) te versnel, konsentrasie deur die loop van die oggend te verbeter en verlaag dit die geneigdheid om onnodig te peusel en om te ooreet.

Ontbyt vanaf koolhidraatkosse (stysel, vrugte of suiwel) help om bloedsuikervlakke te laat styg wat energie vir die komende twee tot drie ure daarna verskaf. Indien ontbyt oorgeslaan word, sal bloedsuikervlakke geleidelik begin daal.

Baie mense ervaar hierdie daling in bloedsuiker as moegheid, bewerigheid, naarheid of sommer net ’n gevoel van geïrriteerdheid. Kort voor lank daal die bloedsuiker so laag dat sommige mense ’n oorweldigende lus kry vir onnodige peuselgoed soos lekkers, sjokolade of koffie met baie suiker. Daar is ook ’n groter kans dat teen die tyd wat middagete aanbreek, jy so honger is dat jy meer eet as wat nodig is.

Dus is een van die belangrikste aspekte van gewigsverlies en volhoubare energie om te begin met ’n gesonde en vroeë ontbyt. Dit kan hawermout met laevet melk of bruinbrood met grondboontjiebotter en ’n vrug insluit. Hierdie hoë vesel kosse dra ook by tot goeie dermgesondheid en help met die voorkoming van hardlywigheid.

As tyd ’n probleem is, kan selfs net ’n vars vrug of ’n handvol rosyne geëet word, maar probeer om nooit die huis te verlaat sonder iets in jou maag nie! Raadpleeg ’n dieetkundige vir meer inligting oor ’n gesonde en gebalanseerde eetplan.