Komende Woensdag hou N/a’an ku sê Gastehuis in Windhoek vanaf 18:00 tot 22:00 ’n wildlewe-uitstalling en wynproegeleentheid om geld in te samel vir beseerde wilde diere of diere wat wees gelaat is.
Foto’s, afdrukke en skilderye van Namibiese wildlewe en landskappe deur ’n verskeidenheid kunstenaars en fotograwe is by die uitstalling te siene, insluitend foto’s deur die bekende wildlewe-fotograaf Martin Harvey.
Ontmoet Martin, Tony Figueira en kunstenaars soos Monica Cserei, terwyl heerlike wyne van Nouveau Wines geproe word. Beperkte uitgawes van afdrukke en kunswerke van onder meer Lucky die jagluiperd, diere en die San van N/a’an ku sê word te koop aangebied.
Kaartjies kos N$200 per persoon en sluit toegang tot die uitstalling, wynproe en verversings in. Sakepakkette is beskikbaar teen N$2 500 per tafel van tien en dit sluit ook ’n geborgde bottel wyn in met jou handelsmerk daarop.
Die opbrengs van die geleentheid is ten bate van beseerde diere en diere wat wees gelaat is waarna N/a’an ku sê omsien, spesifiek Lucky die jagluiperd en die wees luiperdwelpies, Shakira en Ombeli. Bespreek kaartjies deur ’n e-pos na lodge@naankuse.com te stuur of skakel 061 307 338.