24.07.2008

Oak Valley wen goud


Die tweede oesjaar van die 2006 Oak Valley Chardonnay, wat verlede jaar deur die wynlandgoed vrygestel is, het ’n goue medalje ingepalm by die Internasionale Wynuitdaging in Londen. Dié prestasie is geensins verrassend nie, wanneer mens in ag neem dat die gerespekteerde Jancis Robinson hierdie wyn onder Suid-Afrika se top drie witwyne tel.

Die Internasionale Wynuitdaging, met meer as 9 000 inskrywings van 40 lande, is die grootste wynkompetisie ter wêreld. Oak Valley was die enigste Suid-Afrikaanse wingerd om ’n goud vir hul Chardonnay te wen. Daarbenewens is net vyf ander Suid- Afrikaanse wyne (vier wit en een rooi) met goud in ander kategorieë bekroon. Meer nog, het net 14 ander Chardonnays wêreldwyd gouemedaljes gewen (tien van Frankryk en vier van Australië).

Oak Valley-eienaar Anthony Rawbone- Viljoen en wynmaker Pieter Visser is in die wolke oor hierdie prestasie. “Wat ons gouemedalje nog meer laat blink is dat dit Oak Valley se derde internasionale toekenning in drie jaar is. Verlede jaar het die 2004 Oak Valley Blend die Internasionale Trofee vir die beste Bordeaux-styl versnit by die Decanter Wêreld Wyntoekennings gewen, en in 2006 het die 2005 Oak Valley Sauvignon Blanc die Decanter Wêreld Wyntoekkennings se streektrofee vir Sauvignon Blancs onder £10 ingepalm.

Dieselfde wyn was ook ’n naaswenner vir die Internasionale Trofee in hierdie kategorie,” het hy gesê. Die 2006 Oak Valley Chardonnay is geskep van wingerde wat 16 jaar oud is en op die lae suidwes-liggende heuwels van die Groenlandberg geleë is. Nadat dit gepluk is, is dit vir nege maande in 40 persent nuwe Franse eik verouder. Dit is liggeel in kleur, met net ’n titseltjie groen. Dit het geure van peer, pomelo en lemmetjie op die neus, en ’n ietwat neuterige smaak. Dit verhandel teen sowat N$90.