Die bekende plaaslike fotograaf Hentie Burger het pas sy foto-kalender vir 2009 gepubliseer. Die kalender is ’n hoë gehalte beeldportefeulje wat Namibië van die noorde tot die suide uitbeeld, met wildlewe, landskappe en kulturele foto’s wat ingesluit is (Sien voorblad).
In die afgelope paar jaar het Hentie foto’s vir verskeie plaaslike kalenders verskaf en in die laaste vier jaar was sy werk saamgevat in ’n eksklusiewe portefeulje wat na die buiteland uitgevoer is. Vir hierdie nuwe kalender het Hentie en sy vrou, Hilde-Marie, besluit dat dit ’n uitdaging sal wees om ’n kleiner, maar steeds hoë gehalte, kalender te produseer waar hulle self beheer het oor die uitsoek van foto’s en hoe die land uitgebeeld word.
Hentie beoefen al vandat hy 12 jaar oud is fotografie, en sy passie daarvoor het deur die jare net toegeneem. As studente het hy en Hilde- Marie reeds begin saamwerk, en nou, meer as 32 jaar later, vorm hulle steeds ’n gedugte span. Hulle het aanvanklik as amateur reisfotograwe begin, maar werk die afgelope tien jaar op ’n professionele vlak waar hulle Namibië se fasette so goed as moontlik probeer uitbeeld.
Aanvanklik was hulle hoofbelangstelling wildfotografie, maar het hulle later besef dat die diere net een deel is van die natuurkragte van die Namib en die Kalahari. Gevolglik het hulle ook begin aandag skenk aan die planteryk, die geolgie, die mense en kleiner lewende wesens wat tot ’n mate gevorm word deur die woestyne se invloed.
Dus is hul fotografie deesdae meer van ’n eerbetoon aan lewe in die Namib en Kalahari wat die land omring. Weens die aard van die kalender, wat vakansiedae vir Namibië, Suid-Afrika, Engeland, Frankryk en Duitsland insluit, is dit ’n ideale geskenk vir Namibiërs én vriende en familie in die buiteland. Boonop, omdat dit net 450g weeg, kan dit maklik versend word. Belangstellendes kan Hentie Burger se galery (Foto Namibia) by die Namibia Craft Centre in Talstraat besigtig.
Sy beeld-biblioteek bestaan ook uit duisende foto’s. Vir meer inligting of om die kalender te koop, kontak Ingrid Demasius by 061 236 938 of demasius@iway.na. Dit is ook beskikbaar by verskeie boekwinkels, aandenkingswinkels en uitsoek-galery in Windhoek, Omaruru en Swakopmund.