
Die bewoording in Duits op die agterkant van die nuwe grafsteen.

Kaptein Izak Klaasen van Gochas, Namibië, en kaptein Charles Gert Cooper van Lokgwabe, Botswana by die gerestoureerde graf.
Op 1 Junie het sewe lede van die Kriegsgräberfürsorge, oftewel die Oorlogsgraftevereniging (KGF), op ’n sewe dae lange toer na Botswana vertrek. Die bestemming was die graf van kaptein Simon Kooper.
Carsten Möhle van Bwana Tucke Tucke Safaris het met ’n drieman Nama-afvaardiging uit Gochas onder leiding van kaptein Izak Klaasen vooruit gery. Die projek het ontstaan na ’n versoek van kaptein Izak Klaasen van die !Khara Khoen Namas van Gochas, om ’n grafsteen op die graf van kaptein Simon Kooper, oorlede op 31 Januarie 1913, op Lokgwabe, Botswana op te rig.
Aangesien dit nie ’n oorlogsgraf is nie, is dit na regte nie ’n verantwoordelikheid van die KGF nie. Op Lokgwabe is die groep deur kaptein Charles Gert Cooper, kleinseun van Simon Kooper, en ’n ontvangskomitee verwelkom. Die kampvuur het gebrand en die kampterrein was skoon gevee.

Die bewoording in Nama op die voorkant van die nuwe grafsteen.
Na ’n kort verwelkoming is voorbereidings vir die nagrus getref. Na aandete is “Leutwein” gedrink. Die volgende dag is die laaste agt tot tien kilometer deur dik sand in vierwieldryf na die drie grafte afgelê.
Talle vrywillige helpers uit die Nama-gemeenskap het die groep se werk aansienlik vergemaklik en teen middagtyd was die grafsteen opgerig en die werk aan die graf voltooi. Die grafsteen is deur die firma Marmorwerke Karibib vervaardig en Quality Memorials het die graveerwerk uitgevoer.
Die graf is versier met ’n ruiker blomme in ’n OBS-bottel wat as vaas gedien het. Die verpligte fotosessies en ’n bedankingstoespraak deur Kaptein Charles Gert Cooper het gevolg. Die graf is tydelik met doringtakke toegemaak om dit teen beeste te beskerm. ’n Permanente draadomheining word vir die nabye toekoms beplan.

Die oorspronklike graf van Simon Kooper.
Op Lokgwabe het die Nama-gemeenskap afskeid geneem met die pleidooi dat die groep die inwydingseremonie in Augustus 2011 (eerder as November 2011) moet bywoon. Hierdie inwyding sal bygewoon word deur regeringsverteenwoordigers van Botswana, Namibië en Duitsland.
Die ministerie vir Kultuursake in Gaborone het toegesien dat die groep geen invoerbelasting op materiaal hoef te betaal nie en het die groep vir sy goeie werk geloof. Die KGF wou hierdie voorneme van Simon Kooper finansier deur die onkoste van die herstelwerk aan die Witbooi-monument in die Zoopark van die Duitse Kultuurraad te verhaal.
Ongelukkig het die Duitse Kultuurraad nie die finansiering goedgekeur uit die fonds van die Ruiterstandbeeld se verskuiwing, wat vir sulke projekte beoog is nie. Die hoop bestaan egter nog dat die Duitse Kultuurraad ’n gedeelte van die onkoste sal finansier.
Op pad terug het die groep alle name op die grafstene op die Seeis-begraafplaas oorgeskryf. Andreas von Schirp van die firma Greenpark het die begraafplaas in Mei skoongemaak.
– Deur Harald Koch, lid van die KGF.