21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

19.01.2012

Namibië lewer sangpaar op


Hulle is Johan Oberholzer en Wilmaré Rautenbach – ’n nuwe sangpaar met popmusiek wat die luisteraar laat nadink
Dis nie net die sangers Andra, Juanita du Plessis en Nianell wat so met die bries van die Skedelkus se wêreld oorgewaai het na Suid-Afrika nie.

Namibië is ook die oorspronklike tuiste van Hulle.

Van wie? Hulle.

Hulle is die naam waaronder die sangpaar Johan Oberholzer en Wilmaré Rautenbach bekend staan en wat teen die einde van verlede jaar hul selfgetitelde debuut-CD uitgereik het, waarmee hulle hoop “om ’n gaping in die mark” te vul.

Die twee kom albei oorspronklik van Walvisbaai, maar hulle het die sandduine vir Tafelberg verruil en woon tans albei in Kaapstad.

Tussen-in het die lewe egter met elk ’n wye draai geloop en dit het lank geneem voordat dié twee vriende, wat mekaar al van hul laerskooldae ken, besef het dat hulle saam behoort te sing.

Rautenbach en Oberholzer het albei reeds in hul kinderdae op hul tuisdorp opgetree en van mekaar geweet, maar nie regtig in dieselfde kringe beweeg nie.

“Hy is ’n paar jaar jonger as ek en ek het hom net geken as ‘Johantjie’,” sê Rautenbach.

In 2003 het hul paaie weer gekruis en hulle het begin saam sing in plaaslike kuierplekke op Walvisbaai.

Die sangpaar was gou gewild, maar ander ambisies het eers gewink.

Oberholzer het na Suid-Afrika uitgewyk en ’n solo-CD by Just Music uitgereik onder die kunstenaarsnaam J.

“Die CD het nie sleg gevaar nie, maar my hart was nie op die regte plek nie,” sê Oberholzer.

Rautenbach het haar weer in die rolprentbedryf in Kaapstad begewe en haar ook in die groen heuwels van Ierland bevind waar sy gewerk “en haar hart laat breek” het.

Maar die muse het hom nog nooit laat terughou nie. Oberholzer het later weer begin liedjies skryf en dit aan sangers voorgelê.

Baie daarvan het treffers geword, soos “Af, af, af” en “Bloubergstrand se son sak” vir Kurt Darren, asook werk wat hy vir ander kunstenaars gelewer het.

Toe Oberholzer verlede jaar ’n kontrak by Sony Music as liedjieskrywer losgeslaan het, was hy in die sewende hemel. Al wat kortgekom het, was ’n sangmaat sodat hy ook as sanger sy loopbaan kon voortsit.

Dis toe dat hy besef het hy kén mos reeds die regte persoon! Hy het Rautenbach gebel, wat nie ’n oomblik getwyfel het nie.

As sangpaar werk hulle blykbaar net so goed saam as liedjieskrywers, want elk van die snitte op hul CD is deur hulle saam geskryf.

“Die idee was van die begin af om popmusiek te skryf wat nie net goed op die oor klink nie, maar met lirieke wat iets het om te sê,” sê Oberholzer.

“Daar is nog nie so iets op die mark nie en dit is vir daardie gaping waarvoor ons skryf.”

Hy sê ook dat dit van die begin af belangrik vir albei van hulle was om ’n versameling snitte saam te voeg waarvan elkeen anders klink.

Een van dié snitte is Laaste asem, wat reeds op verskeie radiostasies gehoor word.

Rautenbach sê dit is belangrik vir ’n sangpaar om mekaar ten volle te vertrou, en sy het ’n absolute geloof in Oberholzer se musikale aanvoeling.

“Hy het die vermoë om met iets heeltemal onverwags vorendag te kom, en dan werk dit net.”

Oor hul naam kry hulle nogal baie reaksie en dit is presies wat hulle wou hê.

Verder droom hulle van optredes en toer, maar nie noodwendig voor stadions vol mense nie.

“So intiem in ’n kuierplek is heeltemal goed genoeg vir ons, want dit is hoe ons begin het.”

Berig: Anna-Retha Bouwer – Volksblad