21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

4.03.2010

'n Wêreld vol moontlikhede

Tony Figueira


Beyond the Frame, die bekende fotograaf Tony Figueira se nuutste uitstalling, het Dinsdagaand in Studio 77 geopen. “Ek herontdek nie die wiel nie, maar vir my is hierdie versameling ’n heeltemal nuwe ervaring,” sê hy opgewonde. “Soos die uitstalling se titel sê, kyk ek na dit wat buite die raam en wat neffens die beeld is.” Boonop hoop hy om met die werke die mark van binnenshuise versiering te betree.

Een kyk na hierdie werke en mens se geestesoog kan dit sommer al in jou huis sien! Wat Tony basies gedoen het, is om ’n foto te neem en deur middel van Indesign (maar geen Photoshop nie, beklemtoon hy) dit te spieëlbeeld en daarna ’n saamgestelde beeld te skep wat heeltemal anders lyk as die alledaagse.

“Daar is baie metaal, landskappe, duine, strande, golwe, water, pype, vrugte, groente – amper alles waaraan jy kan dink – net in ’n anderste soort formaat en dit sal beslis jou denke prikkel,” sê hy. Tony sê dat dit vir hom ’n groot uitdaging was om iets uniek te skep.

“Ek is al jare lank ’n fotograaf, maar ek weet nog altyd daar is iets buite die raam van dit wat ek skiet. Ons is geneig om baie min hierop te fokus, maar tog is daar altyd iets wat jy nie raaksien nie. Nou, vir die eerste keer, sien ek sulke dinge raak en dis nogal verrassend, en dit het alles te doen met hoe jy die onderwerp vasvang.”

Tony het die afgelope twee maande aan die versameling gewerk en het sommer van alles denkbaar foto’s geneem. Nie dat jy sommer maklik in die finale produk die onderwerp kan identifiseer nie. “Dis juis wat die versameling mooi maak – jy kan jou eie betekenis vir elke werk skep.”

As deel van die uitstalling het hy ’n kenmerkende skoot gekies wat groot gedruk en vertoon word. Daarmee gepaard is ’n versameling kleiner foto’s in boekformaat wat met die spesifieke foto verband hou. “Van elke beeld wat uitgestal is, is daar ’n reeks van tussen 12 en 24 ander foto’s wat dit aanvul.”

In totaal is daar meer as 8 000 foto’s vir mense om uit te kies. Tony sê die besluit om hierdie nuwe rigting in te slaan, het gekom met die besef dat daar ’n wêreld se moontlikhede is wanneer fotografie en ontwerp saamgesnoer word. “Ek sal stry met enigiemand wat vir my sê hierdie is nie foto's nie. Dit ís, net anders.” Hy sê ook dat hedendaagse fotograwe twee keuses het: Bly by die tradisionele, of beweeg saam met die tye.

Hoewel hy tot ’n groot mate by eersgenoemde bly, is daar groot geleenthede wat op hom wag met die tweede keuse. “Basies neem ek fotografie nou na ’n nuwe vlak – en dit is lekker om dit te doen! Veral in die lig dat uitgebrei kan word op die fotoreekse; dit kan selfs vir tekstiele gebruik word. Meer nog kan jy die alledaagse vat en dit iets beeldskoon maak.” Die besondere uitstalling duur tot 31 Maart. Dit is deel van die Bank Windhoek Kunstefees.