Hulle is op pad! Huh? Wie? Piet Pompies, Daniel Jakobus, Jerbes die Leeuboer, Marula Boom en Raapie Knapie natuurlik. Ditsem – DJ Ossewa is weer op Namibiese bodem by Keetmans se skou vanaf 9 September. En hulle kom nie alleen nie, want Jakkie Louw en Egoli se Candy (Michelle Beling) gaan die Suide saam oor ’n hele vier dae vrekwarm rock.
En om op te warm vir die Waens se skouspel, is hul nuutste CD – ’n voltreffer, 16 snit, naatlose dansmonster MET ’n paartie-DVD van 80 minute – ook nou op die musiekrakke. Hoe heet hy? Die Klap Mixes. Gemeng deur DJ van Niekerk. Uhuh! En hou jou lyf reg, want hierdie een gaat jou hard tussen die blaaie moker. ’n Dop met klap, kan mens maar sê, wat klubkoppe se doppies sommer met ’n kwaai-kwaai huppel sal slat. Behalwe dat jy aaneen vir ’n hele uur kan lyf skud, is elke nommer soos in die klaptradisie net daai ekstra stukkie lekker langer. Pure dansplesier.
Van “Ons het die gees” (ja man ja!), “Brul as jy wil,” die bekende volksnommer oor hoe ’n wonderlike ding die donkie maar altyd sal bly, saam varkie vang, regdeur tot by “Met eish” (virrie brannasbende), “Waar kom babas vandaan” (wat jou kinders moet weet voor die lewe hulle dalk ’n taaiklap uitdeel) en die groot Diffolie-treffer “Rockpop.” Sakkie, ruk, en rave saam – is al raad met hierdie bielie-CD.