Seidelberg wynlandgoed se 2006 Cecilia wat verlede jaar geloods is as ’n sosiale opheffingsinisiatief, is bekroon met ’n gouemedalje by die 2008 Femmes et Vins du Monde Concours International, ’n internasionale kompetisie vir vroue en wyne van die wêreld, wat onlangs in Monaco plaasgevind het.
Die 2006 Cecilia, ’n versnit van shiraz, mourvèdre en malbec, was een van net agt goue medalje-wenners en die enigste Suid-Afrikaanse wyn wat by dié bekroonde groep ingesluit is. Die 2006 Cecilia is geskep deur Cerina de Jongh wat sedert 2002 ’n wynmaker by die Seidelberg landgoed is. Nou eers in sy tweede jaar, is die Femmes et Vins du Monde Concours uniek en spog dit met twee sleutelverskille: net vroue wynmakers mag deelneem, en die wyne word eksklusief deur vroue geproe en beoordeel.
Die doel van die kompetisie is om die professionalisme en kennis van vroue in die wêreld van wyn en wynmaak saam te snoer. Vanjaar het 25 proewers van 15 verskillende lande die wyne beoordeel. Wynmaker Cerina de Jongh verpersoonlik passie en toewyding, en dié kenmerke word nie net beperk tot die arena van wynmaak nie.
Met ’n gegoede opvoeding en ’n ondersteunende familie, het Cerina ’n groot behoefte aan “teruggee”, en die hoop om die lewens van minderbevoorregtes te verbeter. Cerina se entoesiasme spoel ook in haar ander groot liefde oor: wynmaak. Dit het juis tot die bekendstelling van die Cecilia gelei. Vir elke bottel Cecilia wat verkoop word, skenk die eienaar van Seidelberg, Roland Seidel, R20 aan Streetsmart (www.streetsmart.org.za), ’n welsynsorganisasie wat die lewens van straatkinders in die Kaapstadomgewing wil verbeter.
Die afgeleide woord van die naam Cecilia is ewe betekenisvol, en dui op die belangrikheid van familie en erfenis: Cecilia is Cerina se ouma se naam, asook haar eie middelnaam. Boonop is St. Cecilia die beskermer van musiek, ’n tema wat weerspieël word in die Cecilia-etiket. Die musieknote op die etiket kom in Mozart se klavier concerto in F majeur K459 voor, wat tydens die bekendstelling van die wyn deur Cerina uitgevoer is saam met die Kaapstadse kamerorkes.
Albei Cerina se kleintyddrome is nou gerealiseer: ’n loopbaan op ’n wynplaas, en musiek maak saam met ’n orkes. “Die feit dat ek my drome kon bewerkstellig het my met ’n sin vir verantwoordelikheid gelaat, en ’n brandende begeerte geskep om geleenthede aan straatkinders te gee wie se drome tot ’n groot mate verwoes is. Ek wil vir hulle die geleentheid gee om hul drome te verwesenlik.” Elke nuwe Cecilia-oesjaar sal geloods word met ’n konsert by Seidelberg, en die etiket sal ’n uittreksel van ’n sekere musiekstuk bevat.
Dus sal elke stuk musiek wat op die etiket voorkom, die note van ’n simfonie vasvang wat by elke bekendstelling gespeel word. Cerina de Jongh het van die Elsenburg Landboukollege gegradueer as een van die top studente in haar klas. Voordat sy by Seidelberg aangesluit het, het sy by Grangehurst gewerk en waardevolle ondervinding opgedoen by wynlandgoedere in Frankryk, Australië, Nieu-Seeland en Kalifornië. Die 2006 Cecilia spog met helderrooi kleure en bring intense vrugtegeure en speserye op die neus. Dit kos sowat N$75 en is by die meeste spesialiswinkels beskikbaar.