18.05.2006 Museum kry sonlig soos Monet wou hê
OMHUL in natuurlike lig soos die skilder beoog het, is 'n reeks glinsterende waterlandskappe deur die Franse Impressionis Claude Monet sedert gister weer vir die breë publiek toeganklik nadat dit ses jaar gebêre is tydens die opknapping van die Orangerie Museum in Parys.
Die nasionale museum se herontwerp ten koste van sowat N$220 miljoen, bied nou 'n nuwe 1 000 m² uitstallingsruimte vir een van die land se grootste versamelings van Impressionistiese en moderne kuns.
Die nuwe museum bring Monet se Les Nympheas - 'n reuse-stel van agt tweemeterhoë skilderdoeke met waterlelies en dammetjies - weer in die openbare oog. As deel van 'n herontwerp in die 1960's is die dakvensters toegebou wat lig van die skilderdoeke weerhou het.
"Dit is uniek - daar is niks wat dit kan oortref nie," het die kurator Philippe Saunier gesê, met verwysing na die rangskikking van die skilderye met 'n gekombineerde lengte van 100 m, wat teen die mure van die grondvlak uitstallingskamers van die Orangerie gehang is.
"Die beligting is die grondslag van die Impressionistiese benadering. Dit was betekenisloos dat die werke van Monet nie die voordeel daarvan kon geniet nie," het hy gesê.
Monet het die Nympheas tussen 1914 en 1926 geskilder by sy huis in Giverny in die noord-westelike streek van Normandië, Frankryk. Hy het die reeks in 1918, na afloop van die Eerste Wêreldoorlog, aan Frankryk geskenk.
Die kunstenaar wou hê dat die Nympheas-kamers - met die rustige kleure van watertonele - 'n toevlugsoord vir meditasie sou wees, luidens inligting op panele in die museum.
Die museum se ander besitting, die Walter-Guillaume versameling, bestaan uit 144 skilderdoeke deur verskeie kunstenaars insluitend Auguste Renoir, Paul Cezanne, Henri Matisse, Andre Derain, Pablo Picasso, Amedeo Modigliani en Henri Rousseau.
Die Orangerie-geboue wat in 1852 opgerig is, is langs die Place de la Concorde in die Tuileries openbare tuine geleë, waar dit as 'n bygebou vir die nabygeleë Louvre-museum opgerig is.
Dit is oorspronklik in 1927 geopen as huisvesting vir die Monet-skilderye en in die sestiger jare uitgebrei om die Walter-Guillame versameling te huisves nadat die Franse versamelaar Paul Guillaume se weduwee dit aan die regering verkoop het.
Totdat dit in 2000 vir opknappingswerk gesluit is het meer as 500 000 mense per jaar die museum besoek.
'n Span onder leiding van die argitek Olivier Brochet wou sekere eienskappe van die 1960's-ontwerp verwyder wat direkte toegang tot die Nympheas vanuit die toegangsaal sou toelaat, en ook 'n ekstra betonvloer verwyder wat bo-oor die vertoonkamers geïnstalleer is.
Vir die Walter-Guillaume versameling is nuwe ruimte onder grondvlak uitgegrawe wat ook deur natuurlike sonlig verlig word, en voorsorg getref vir 'n ouditorium asook 'n kamer van 500 vierkante meter vir tydelike uitstallings.
Die heropening is egter vir meer as 'n jaar vertraag toe werkers in 2003 die onverwagse ontdekking gemaak het van 'n 55 m lange muur van 'n 16de eeuse dorp in die area wat die tydelike uitstallingsruimte sou huisves.
Die regering het besluit dat die oorskotte bewaar moet word, wat beteken het dat die argitekte gedwing was om die beplande vorm van die uitstallingsruimte te verander sodat die klippe in hul historiese posisie sou bly.
'n 20m lengte van die muur is nou sigbaar binne die opgeknapte Orangerie. Die algehele museumruimte is nou bykans verdubbel tot 6 300 vierkante meter.
Die museum het gister geopen nadat laaste afrondingswerk voltooi is. Toegang sal gratis wees tot 21 Mei.
- Nampa/AFP
|