2.02.2012 Mix Alert ’n platform vir aspirantkunstenaars
Reginald Isaacs, eienaar van 24reg, ’n produksie-onderneming wat hoofsaaklik in dokumentêre rolprente spesialiseer, het verlede jaar ’n nuwe projek aangepak – die vervaardiging van ’n musiekalbum. Die opname van die 16 snitte op die album deur verskillende aspirantsangers, het in Augustus 2011 in die 24reg-ateljee begin en die CD getiteld Mix Alert Volume 1, is nou by Universal Sounds en Mono Music teen N$80 per CD beskikbaar.
“Die kunstenaars wie se musiek op die album gehoor kan word, is aspirantkunstenaars. Die idee van die vervaardiging van hierdie album was om ’n platform te skep vir kunstenaars wat nog nie deel is van die plaaslike musiekbedryf nie en om sodoende aan hulle blootstelling te gee,” sê Reginald. Hy sê die tipe musiek op die album sluit in kwaito, hip-hop, R&B en Afro-pop. Hoewel Reginald hoofsaaklik betrokke is by die vervaardiging van dokumentêre rolprente, het hy die vervaardiging van die album baie geniet en is hy reeds besig om ’n Volume 2 te beplan.
“Vir Mix Alert Volume 2 sal ek graag ook saam met kunstenaars wat reeds gevestig is wil werk, maar die vereiste is dat hulle Afrika-musiek maak, want hoewel baie plaaslike kunstenaars se albums Afrikamusiek bevat, is daar in die mark steeds ’n groot aanvraag daarvoor,” het hy gesê. Die snitte op die album (kunstenaars se name in hakies), is: “Jump on a train” (Beatmaster), “Sunrise” (Converzemafia), “Healthy Lifestyle” (Genis ft. Sandra Blak), “Altercation” (Thomas ft. Beatmaster), “I’m leaving” (Young Trev), “Deci Vibe” (Eyelid ft. Beatmaster), “Rramasedi” (Ona & Zimah), “Baby Melody” (Lil’ Mic), “Don’t” (Sandra Blak), “We Are One” (Fredelmani), “Weekend Fever” (Genis), “Shega” (Vuza ft. Tswana Boy & Beatmaster), “Tsala” (Ona), “Moratiwa” (Jay V ft. Beatmaster & Young Trev), “Zula Life” (Mr. Cool) en “Summer Special” (Cho-Cho ft. Beatmaster). Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan 24regcc@gmail.com
|