2.02.2012 Lui dié foto’s ’n klokkie?
Weens ’n gebrek aan opgetekende inligting oor gewilde plaaslike musiek, is die Stolen Moments argief- en navorsingsprojek op die been gebring en word nou op Namibiërs se kennis staatgemaak om mense, musiek en meer te identifiseer. Hierdie week se foto’s is in die jare 60 geneem. Herken iemand dalk hierdie musiekmakers uit toentertye? “Family in front of house – Man with a guitar” is die enigste woorde wat hierdie foto beskryf wat by die Nasionale Argief gevind is. Is daar iemand wat meer inligting het oor wanneer die foto geneem is?
Kyk na die huise in die agtergrond. Lyk dit soos behuising wat in die laat 1950’s opgerig is? Wie is die mense in die foto? Daar bestaan die kans dat dit as propaganda gebruik is om die “gelukkige” lewe in townships uit te beeld. Is die man ’n musikant of net iemand wat graag kitaar speel? Wat dra die man op sy kop? Is dit vere of ’n haarstyl? Tree die vrou saam met die man op, of staan sy maar toevallig daar? “Windhoek Old Location, April 1960. Musicians in Sibyl Bowker Hall, waiting for performance” is die titel van hierdie foto volgens die Nasionale Argief se notas. Maar Dieter Hinrichs wat die foto op 8 April 1960 vir Ottilie Nitzsche-Reiter geneem het, het aan Stolen Moments gesê dat die foto wel in ’n konsertsaal geneem is, maar beslis nie in die Ou Lokasie nie.
Dus, wat is dit wat hier vasgevang is? Kan dit lede wees aan die sogenaamde “Coon Carnival Ensemble” wat van Suid-Afrika hier gekuier het? Of is hulle Namibiërs? As hulle deel was van die ensemble, onthou enigiemand deel van die optredes? Vir wie het hulle opgetree? Indien nie, herken iemand die vrou? Indien jy hierdie foto’s herken, of oor inligting beskik oor Namibiese musiek uit vergange dae, kontak die Stolen Moments-span by contact@stolenmoments.info of by 081 400 4412, of besoek www.stolenmoments.info.
|