Ouers wat raadop is oor wat hulle in die komende vakansie met hul kinders gaan doen, kan van 19 tot 21 Augustus ’n bietjie verligting verwag, wanneer die Magic Moments-kamp vir kinders van graad 2 tot 4 by Hodygos aangebied word. In ’n neutedop bied die naweekwegbreek ’n alternatief vir die alewige verveeldheid, of ure se sit voor die kleinkassie.
Wie gaan saam?
• ’n ervare onderwyseres
• ’n paramediese/veiligheidsadviseur
• 2 mamma’s (ook ervare funksie koördineerders)
• ’n kamp ouboet/ousus wat die kleingoed sal besig hou.
Waarheen?
Hodygos is sowat ’n halfuur vanaf Windhoek geleë en is ’n veilige en kindervriendelike fasiliteit wat oor verskeie rondawels beskik.
Wat?
By die kamp gaan daar sommer baie tyd in die buitelug spandeer word, weg van TV’s en rekenaars, terwyl almal ’n klomp nuwe vriende gaan maak. Daar gaan tyd wees vir rondhardloop, speel en groepaktiwiteite. Die organiseerders beplan om kreatief te raak met musiek, dans en kuns, maar ook tyd inruim om meer te leer oor die natuur. Een van die onderwerpe wat tydens die naweek bespreek gaan word, is hoe om in noodsituasies op te tree as ma en pa nie naby is nie.
Wanneer?
Die groep vertrek 19 Augustus om 07:00 vanuit Windhoek en keer weer op 21 Augustus om 13:00 terug.
Kostes
Die twee-en-’n-halfdaagse wegbreek, kos N$950 per kind.
Wat gaan kleinding kry?
Drie etes per dag; twee tussen-in gesonde versnaperings per dag; ’n ouboet of ousus wat sal help met aanpassing en ’n drukkie gee as die verlang na mamma te groot raak; nuwe vriende maak en hope pret hê. Almal slaap saam in ’n rondawel.
Saambring?
Ou klere, tekkies, sandale, sonskerm, handdoek, toiletware, slaapsak & kussing, flits, warm klere / baadjie, slaapklere, sweetpak, koppie, mes, vurk, lepel, bord, papbakkie.
Wat moet tuisbly?
Kos, lekkergoed, koeldrank, selfone, speletjies, geld, enige ander “luukshede” .
Ouers
Mamma en pappa hoef nie bekommerd te wees oor waarmee kleinding hom/haarself gaan besig hou nie of dat hulle veilig is nie. As bonus kry ouers sommer ’n alleentydjie weg van die kleingoed.
Hoe skryf ek in?
Om te verseker jy klim op 19 Augustus saam met die res van die groep op die bus, kontak voor 4 Augustus vir Alice of Lynn by 061 253 464 of info@events.com.na. En wikkel – daar is net ’n beperkte hoeveelheid plekke beskikbaar!