Nathalie Nosjean van die Le Rendez-Vous restaurant by die Franco-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) bied elke tweede Saterdag ’n kookles in Franse kookkuns aan. Jy word geleer watter kruie en speserye mekaar aanvul en ontdek die geheim hoe om die regte bestanddele te kombineer.
Tydens elke kookles moet ’n driegangspyskaart wat eie aan kosse in spesifieke streke van Frankryk is, voorberei word. Die kos moet ook met die geskiedenis en kultuur van daardie spesifieke omgewing toegelig word.
Die eerste kookles word op Saterdag 4 September vanaf 09:00 tot 13:00 aangebied. Gedurende hierdie kookles word die tradisionele kookkuns van die Normandiese streek beproef. Normandië is bekend vir sy camembert-kaas en groot appelplantasies, terwyl beesboerdery en melkerye belangrike ekonomiese aktiwiteite in die streek is.
Die spyskaart van die driegangmaaltyd is dus gebaseer op produkte wat eie aan Normandië is en daar word graag gekook met baie room, botter, gegiste appelsap, appelbrandewyn en camembert.
Op 4 September lyk die spyskaart so:
• Voorgereg – Onderstebotert met appel en camembert (Tarte Tatin pommes-camembert).
• Hoofgereg – Hoender flambé met appelbrandewyn, gegiste appelsap, room en appel (Poulet flambé au calvados et cidre aux pommes).
• Nagereg – Appelsorbet (Sorbet aux pommes).
Koste per kookles beloop N$475 per persoon, dit sluit die ete om 12:00 in en deelnemers mag ’n maat nooi om gratis saam vir die voorbereide feesmaaltyd aan te sit. Deelnemers mag ook ná die kookles die resepte huis toe neem.
Die minimum persone per kookles is vier en die maksimum vyf. Moenie later as Donderdag 2 September by die FNNC registreer nie. Kontak 387 330. Die volgende kooklesse word op Saterdag 18 September, 2 Oktober, 16 Oktober en 30 Oktober aangebied.