Kwansuis, Piet van Rooyen se vierde digbundel wat eersdaags verskyn, beskik oor ’n diepgang en eerlikheid wat myns insiens die beste van sy digkuns tot dusver opgelewer het. Die era van onskuld is verby. Goddank, hierdie man lééf! (Sy eerste digbundel Draak op die erf het reeds in 1973 verskyn, in 1983 volg Rondom die boorvuur en Goedsmoeds in 2002.)
Literatuurteoretici is deesdae van mening dat ’n kunsproduk oor ’n universaliteit moet beskik, en hoe minder gedateerd ’n skrywer skryf, hoe beter is sy of haar werk. (Of hierdie argument altyd geldig is, betwyfel ek, want sekere tekste word juis geskryf ter wille van “onthou” en om te dokumenteer.)
Hoe dit ookal sy: met Kwansuis word hierdie reël ten opsigte van gedateerdheid nie oortree nie, want die kosmiese en universele tesame met die eietydse en ’n titseltjie kontreilike word betrek. Met verse diep onder die bodem van die see tot hoog tussen die hemelligame in die onmeetlike heelal, tree Van Rooyen met hierdie bundel toe tot die hoofstroom resente digters wat postmodernisties te werk gaan.
Die bundeltitel laat reeds deurskemer dat die allerwaarheidste waarheid opgehef word, en die gedig met die ironiese titel “openbaring” (bl. 72) ondersteun die ontkenning van ’n finale waarheid. Die stuk of 50 gedigte word in vier afdelings, “swemmers”, “spene van die aarde”, “ek en jy” en “die dood stoot orals sy hopies” opgeneem waarin vier temas, naamlik see, water, verhoudings en die dood deur ’n behendige aanwending van simbool en metafoor aan bod kom.
Deur die bundel heen is die leser bewus van ’n onderliggende bedreiging as gevolg van grense wat oorskry word. Skerp skeidslyne tussen uiterstes soos lewe en dood, skuld en onskuld, chaos en orde, hede en verlede (om maar ’n paar te noem) word opgehef, sodat ’n finale antwoord op die groter menslike problematiek net nie moontlik is nie (vergelyk “die verlede is vloeibaar”, bl. 71).
Die soeke na die primitiewe oer-waarheid (en desnoods, oerchaos) wat tot dusver terug te vind was in Van Rooyen se prosatekste (waarvan twee bekroon is), is ook in hierdie digbundel ’n deurlopende tema. Die eerste gedig van die tweede afdeling – na my mening die beste van die vier – is getiteld “sosiopaat” (bl. 19), en sou kon dien as ’n tipe gietvorm vir die bundel, (en selfs vir Van Rooyen se oevre in die geheel).
Hier is die natuurliefhebber, die effe mens-sku spreker aan die woord wat verklaar: ek betrap my dat ek wens: die amperse uitwissing van geheel die mensdom net hier en daar ’n nederige gespaar hele stede voor die voete afgemaai/ sodat diere daar kan intrek om dan in die laaste strofe sy wens te regverdig: ek hoop my hierin uitgespaar/ ek skep van bergfontein se water lig my houtkarba omhoog – hoera! en drink op die musiek van stilte In aansluiting hierby kan “vlugteling” (bl. 31) gelees word waarin die swerwerfiguur (die anti-mens, met treffende beelding tipies van Van Rooyen) langsamerhand onherroeplik wegglip uit die hoofstroom van die beskawing: met ’n swenkie en ’n systap/ glip hy diep-diep weg/ as hy eendag ooit sou wou/ terugkeer van die ondergrond/ kort hy veel meer as ’n skeermes.
(Hierdie swerwer-karakter herinner mens sterk aan die outsider-karakters, die Uys-broers in Van Rooyen se roman Gif wat in 2001 gepubliseer is). ’n Verlange na die begin van die skeppingsdae toe alles nog woes en deurmekaar (maar ongerep) was, blyk uit “visjagters” (bl. 12) waar beelde wat gewoonlik met die land geassosieer word (“ondersese koppe” en “leeus van die onderwater”) gebruik word om ’n onderwaterervaring te verbeeld wat ’n vervloeiing van land en see suggereer.
Van die gedigte voer gesprekke met bekende ouer Afrikaanse (asook ander klassieke internasionale) tekste. Terwyl ek die bundel gelees het, het raakpunte met Eugène Marais se “Skoppensboer” (“voëlvanger”, bl. 73) en Boerneef se praatverse (“plaas-onthou”, bl. 21) my opgeval.
In “roofvis” (bl. 15) lees jy N.P. van Wyk Louw se Raka raak in die vorm van die ou “platbekbaber” wat hom skuil hou tussen “donker riete” van die “kuil” en soek vir ’n: kind se liggaam vir (sy) bek rietskraal meisiekind om aan te vroetel met gewebde vingers/ só glibberig en glad Kinderliedjies, sprokies asook die mitologie word as intertekste gebruik.
Die eerste twee woorde van die onskuldige kinderliedjie uit my kinderdae (“aljander aljander so deur die bos”) in “argeoloë” (bl. 51) roep die dreigende gevaar te midde van die onskuld op, terwyl (bl. 49) die Hansie-en-Grietjiesprokie betrek word in “die lig van ons oë”. Van die onskuld na die erotiese.
Van Rooyen het in die verlede nooit weggeskram van hierdie saak nie, maar ook nog nie so reguit daaroor gepraat nie (behalwe in Die brandende man, 2002). Verby is die dae van “Kraaitjie Melaaitjie” (uit Rondom ’n boorvuur) wat so subtiel met haar hare so “al voor (sy) oë swaai”, en dit is ook goed so.
Ek vermoed dat enige skrywer voordat hy of sy eendag doodgaan, so kunssinniglik en uiters genietlik soos Van Rooyen oor die lyf wil praat. Die seksuele is nou maar eenmaal ’n oerdryf( drif)krag waarmee rekening gehou moet word, of mense dit nou aldag wil erken of nie. In hierdie bundel word verskuilde agendas van die menslike spesie oopgegooi.
Sake wat kwansuis ongesiens en terloops verbygegaan het – soms ten onregte van ander, en soms sonder om enige skade te berokken, behalwe dat jy nie met jou ma daaroor wil praat nie – word uitgesê. So is die plaas nie meer die milieu waar die natuur se skoonheid en die inwoners se eerlike hardewerk voorop geplaas word nie.
In “koei” (bl. 29) word die illusie die nek ingeslaan, en in “roofvis” kry die oeroue pedofiel beslag. In hierdie bundel gaan die lyflike egter hand-aan-hand met kwesbaarheid.
Hoe luider die verklarings van oorwinning, hoe eensamer en kwesbaarder raak die spreker, hoe warmer raak die sand waaroor hy moet loop om vir haar roomys aan te dra (“strandtoneel”, bl. 8) en hoe meer verwese word hy by die gedagte dat hy alleen moet “nagmerrie-ry/ op (sy) eenmansmatras” (“teen die dors”, bl. 34).
’n Gefassineerdheid met die dood ter wille van euforie van vitaliteit en lewensdrif (’n leitmotief in veral Van Rooyen se prosatekste), word in Kwansuis teruggevind veral in die laaste afdeling.
In “kopbeen” (bl. 59) word die dood as gelykmaker uitgebeeld wat die liggaam van alles wat oorbodig is, stroop, en die kaal skelet word die perfekste vorm van menswees: dit troos my om te weet hoe netjies ek eendag so in my graf gaan lê alles skoongebleik en wit alle vlees en alle oorbodige vel behoorlik weggevreet In die slotgedig “op die rand van die aarde” (bl. 75) word die doodsverlange van die swerwerspreker ’n versugting dat hy in sy omswerwinge hier tog ook een maal so ver trek dat ek oor die rand kan loer die oorverdowende donkerte in Soos vele van Van Rooyen se tydgenote skep hy poësie oor poësie, en gedigte soos “wolwe by die deur”, “bitterlik beroemd” en “digter van lemoene” (bl. 62, 66 en 68 onderskeidelik) verbeeld die uitmergelende proses van gedigte skryf.
Gesprekke met gestorwe skrywers – ek herken Christoffel Coetzee in “om filosofie te rook”, bl. 60, en Sylvia Plath in “bitterlik beroemd” – dui op ’n vereenselwiging met en begrip vir sy skryfgenote.
Stilistiese aspekte soos woordskeppings en idiome wat dubbelsinnig (en soms trippelsinnig!) ingespan word, maak dat wat kwansuis een (onskuldige) ding moes beteken so aspris ’n hele boel ander (minder onskuldige) dinge betrek.
Oor (en vir) hierdie bundel is nog veel te sê. Hoewel die gedigte nie almal ewe toeganklik is vir die breër leserspubliek nie – soos dit dikwels die geval is met poësie – is die literêre kwaliteit van Kwansuis van so ’n aard dat Van Rooyen met gemak kan saampraat met die gerekendes onder die Afrikaanse digters.
Kwansuis (ISBN-10 0-7981- 4994-9 en 13 978-7981-4994-5) is deur Human & Rousseau vrygestel. Dit sal vanaf middel September teen N$137 by Book Den beskikbaar wees.