27.07.2006 Kus vol kultuur
NADAT die Swakopmundse sosiale kalender die hoofsaaklik deur die Swakopmund Karnaval oorheers is, bied dié kusdorp se kunsvereniging in die komende twee maande verskeie kulturele hoogtepunte aan.
Saterdag om 17:00 word 'n kunsuitstalling deur Alfeus Mvula en Olele Zane in Die Muschel geopen. Hierdie uitstalling word deur me. Sabine Erlenwein van die Goethe Instituut geopen en kan tot 19 Augustus besigtig word.
Een van die hoogtepunte in die volgende weke, is beslis die twee opvoerings van die Hamburgse Ohnsorg Teater wat die komedie Das Hörrohr van Karl Bunje aanbied. Dit vind Maandag 31 Julie en Dinsdag 1 Augustus om 19:30 in die Namib Primêre Skoolsaal plaas. Kaartjies is by Die Muschel te koop.
Op Saterdag 5 Augustus bied die Swakopmundse Orkes 'n musiekaand onder die tema Come Together, Play Together aan. Ander deelnemers is die Swakop Strings, die Meerdorfter Musiekskool, leerlinge van Christa Lambrechts en Swakopmundse Mannesangvereniging. Toegang is gratis, hoewel 'n kollekte gehou word. Dit vind om 19:30 by die skoolsaal van die Primêre Skool Namib plaas.
Tien dae later, op 15 Augustus, is die wêreldbekende Tübinger Saxofoonoreks om 19:30 in die skoolsaal te sien. Kaartjies hiervoor is by Die Muschel te koop. Altesame 16 professionele saxofoonspelers tree onder die Engelse dirigent D. Bath op. Hulle speel kontemporêre en klassieke musiek.
|