2.02.2012 Kos het ’n taal van sy eie
’n Eier wat gebreek word; die souterige knars van aartappelskyfies; die tinteling van ’n teelepel wanneer jy tee roer; spek wat in ’n pan sis...
Kos het ’n taal van sy eie en dit betrek gewoonlik ’n resep vir die sintuie – iets wat navorsers sê reeds in jou gedagtes begin ontwikkel.
Die blote gedagte aan kos is genoeg om die honger-hormoon, ghrelin, in mans te laat toeneem, sê navorsers verbonde aan die Max Planck-instituut, wat onlangs ondersoek ingestel het na hoe die liggaam op hormoonvlak op eksterne gastronomiese stimulering reageer.
Vlakke van insulien, ghrelin en leptien is gemeet nadat die mans foto’s van eetbare en oneetbare voorwerpe onder oë gehad het.
Ghrelin, die hormoon wat vir die brein sê wanneer om te eet, het toegeneem nadat foto’s van kos gesien is, wat bevestig dat ons eerste met ons oë eet.
Verdere navorsing het daarop gedui dat kosgeure waarskynlik jou mond eerder aan die water gaan kry as net foto’s daarvan.
In ’n studie wat verlede jaar in die Journal of Texture Studies opgeteken is, het Charles Spence en sy span navorsers probeer vasstel wat ons monde laat water en gevind dat reuk en klanke, soos die sis van spek wat braai, of die kraak van ’n aartappelskyfie wat geëet word, ’n noemenswaardige rol speel. Dit mag verduidelik hoekom restaurante foto’s op hul spyskaarte aanbring en hoekom baie restaurante se kombuise vir gaste sigbaar is.
“Ons weet lankal om te eet, word nie altyd deur eintlike honger aangewakker word nie en met elke dag se blootstelling aan boodskappe oor kos in die media, is dit geen wonder dat ons gereeld na ’n lekkerny gryp nie, en dat vetsug ’n wêreldwye probleem geword het nie,” sê Spence. – Ontleen aan www.iafrica.com
|