25.02.2010 Klaviermusiek uit boonste rakke
Twee Europese pianiste deel volgende week die Kollege vir die Kunste se verhoog en bied dan ’n uitsonderlike konsert aan. Die Genova en Dimitrov-klavierduo is in 1995 in Hannover, Duitsland, op die been gebring en het amper onmiddellik daarna die Bellini Musiekkompetisie in Italië gewen. ’n Jaar later het hulle met die louere weggestap by die ARD Musiekkompetisie in München asook die Tokio Klavierduo-kompetisie en in 1997 die Murray Dranoff Klavierduo-kompetisie in Miami.
Sedertdien het hulle opgetree in Europa, Noord- en Suid-Amerika asook Asië en Afrika se grootste konsertsale. Hulle het ook al opgetree saam met orkeste soos die NDR Hannover, SWR Kaiserslautern, die Stuttgart, Sofia, Oekraïnse, Kaapstadse, Durbanse en die Poolse filharmoniese orkeste asook die New World en Savannah, Beijing, Moskou en Minsk simfonieorkeste.
Hoogtepunte in die 2007/08 seisoen het ingesluit optredes in Los Angeles, by die Ludwigsburg-kasteel en Schwetzingen-feeste, by die Al Bustan Kunstefees in Beiroet, Radio WDR se Keulen-konsertreeks, by die Ghent Opera, in Mexikostad asook die vrystelling van hul CD, Favourite Flavours.
Hul repertoire sluit in die uitvoering van die werke van Shostakovich, J.C. Bach, Clementi, Vladigerov en Casadesus. Beide klavierspelers is in Bulgarye gebore en speel al van ouderdom 5 die klavier. Op negejarige ouderdom het hulle hul orkesdebuut gemaak.
Hulle het soloklavier by Sofia se Musiekakademie en daarna aan die Hannover Musiekakademiegestudeer. In 2005 het hulle ereburgerskap in Duitsland ontvang. Die konsert in Windhoek vind op Vrydag 5 Maart om 20:00 in die Kollege vir die Kunste se konsertsaal plaas. Kaartjies kos N$40 vir volwassenes en N$20 vir kinders. Dit is by die deure te koop.
|