21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

17.02.2005

Joey Nel oorlede

EEN van die vroue wat diep spore in Namibië se modewêreld gelaat het, me. Joey Nel (néé Rossouw), is vroeg vanjaar in die ouderdom van 91 oorlede.
Me. Nel het in 1935, toe sy maar 19 jaar oud was, na Suidwes-Afrika gekom en by verskeie winkels, onder meer die destydse Binnes en James, gewerk voordat sy in 1937 met Willie Nel, 'n polisieman van Usakos, getroud is.
Saam-saam het hulle op talle plattelandse dorpies gewoon totdat hulle uiteindelik in 1951 op Outjo beland het waar sy met baie min ondervinding, 'n haarsalon en modewinkel geopen het. Só het sy vir meer as 40 jaar die winkel bedryf en ook takke in Windhoek, op Khorixas, Tsumeb, Walvisbaai en Otjiwarongo geopen.
Hoewel haar winkel op Outjo, Josephine's Modes, in 1978 tot op die grond afgebrand het, het sy weer die drade opgetel en die winkel heropen met die hulp van haar vriende op die dorp.
Ongelukkig het haar sig sodanig verswak dat sy in 1992 alles op Outjo verkoop het en na Windhoek verhuis het waar sy 'n kleiner winkel saam met haar dogter Julie en kleindogter Arina in die Baines inkoopsentrum geopen het.
Om haarself besig te hou omdat sy nie meer kon lees weens haar sig nie - sy kon net sowat 5 persent sien - het sy kindertruie gebrei terwyl sy geluister het na bande van die Bandhulp vir Blindes.
Me. Nel het tot in Junie 2003 by haar dogter Julie en haar skoonseun Michael gewoon waarna sy na haar seun Willie en sy vrou Elsie op Hentiesbaai verhuis het. Sy is op 1 Januarie vanjaar oorlede by haar dogter Elisma wat op Swakopmund woon, bykans veertig jaar nadat haar man afgesterf het. Sy laat drie dogters, haar seun, tien kleinkinders en agt agterkleinkinders agter.