9.02.2012 Interessante tradisies
’n Verskeidenheid interessante Valentynstradisies het met die tyd ontwikkel. Honderde jare gelede het kinders in Engeland byvoorbeeld op Valentynsdag as volwassenes aangetrek en liedjies van deur tot deur gesing. In Wallis is liefdeslepels van hout met ’n gekerfde sleutel, sleutelgat en hart ontwerp en as geskenke weggegee.
Die gee van blomme dateer waarskynlik terug tot die vroeë 1700’s toe Charles II van Swede die Persiese poëtiese kunswerk, The Language of Flowers, na Europa gebring het. Dwarsdeur die 18de eeu is blommeboeke gepubliseer waarin geheime met ’n lelie of sering geruil kon word. Volledige gesprekke kon selfs deur middel van ’n bos blomme plaasvind.
Hoe gewilder die blom, hoe meer tradisies en betekenisse word daarmee verbind. Die roos wat liefde verteenwoordig, is waarskynlik die enigste blom waarvan die betekenis wêreldwyd bekend is.
Die roos bly steeds die gewildste blom wat deur mans vir hul geliefdes gekoop word. Deesdae gee mense eerder vir hul geliefde blomme waarvan hy of sy die meeste hou. Ander gewilde Valentynsblomme is tulpe, lelies, asters en angeliere.
|