Indiese kos betower die wêreld oor

EEUE nadat Indiese speserye won-derlike avonture geïnspireer het en veroweraars aangemoedig het om gevaarlike reise aan te pak, bly blatjang, kerrie en tandoori nog steeds gewild in kombuise die wêreld oor. Die oë water, die tong brand en nog steeds klop miljoene harte vuurwarm vir hierdie bestanddele.
Dit is inderdaad só: die Indiese gastronomiese pot prut voort en vind al hoe meer 'n nis in die wêreldwye restaurantbedryf. Geskiedkundige aantekeninge dui daarop dat die eerste Indiese restaurante reeds vroeg in die 20ste eeu geopen het.
Speserye soos kaneel, kardemom, peperkorrels, lourierblare, borrie, rooi rissies, komyn, koljander en mostertsaad en lepel-s-vol olie lê aan die hart van hierdie koskuns. Die kleur en aroma dra natuurlik ook aansienlik by tot die finale bekoring. Soos sy mense, verskil die land se disse ook van streek tot streek. Wat egter oral dieselfde bly is dat dit tradisioneel met die vingers geëet word.
Volgens statistiek het daar aan die begin van die millennium sowat 8 000 Indiese restaurante in Engeland bestaan. Dáár is dit 'n nywerheid ter waarde van £2 miljoen en skep dit werk vir meer as 70 000 mense wat 70,3 miljoen etes per jaar bedien. Die ironie is egter dat meeste van die "Indiese" restaurante eintlik deur Bangladesjers bestuur word.
In Amerika is Indiese kos nog steeds nie so gewild soos Chinese of Japanese kos nie, hoewel dit stadig maar seker toeneem. Met sowat 1,5 miljoen Indiërs in Amerika bestaan die behoefte wel en raak dit al hoe meer algemeen om masala op die rakke te sien.
In Japan is palak paneer en raita ook al deel van talle spyskaarte. Moet ook nie verbaas wees om 'n Japanese kelner te sien wat die tradisionele Indiese salwar-kamees dra en elaichi-tee bedien nie. Internasionaal-erkende koskenner, Madhur Jaffrey, skryf dat sy baie beïndruk was om te sien dat Japanese supermarkte meer rakplek beskikbaar gestel het vir Indiese disse as in vergelyking met Chinese of Koreaanse kos.
In Suidoos-Asië het Indiese kos ook 'n ryk geskiedenis. Onder Britse-bewind is duisende Indiërs na Maleisië geneem om op die spoorwegstelsel te werk. Te danke aan hul afstammelinge is dit redelik algemeen vir Maleiers om te smul aan idlis (gestoomde ryskoekies), dosas en vars blatjang wat van kruie, kokosneut of lensies gemaak is en op piesangblare bedien word.
Daar is egter nog talle ander lande waar Indiese disse minder gewild is, veral in Europa. Dalk is die mildelike gebruik van olie en vuurwarm speserye 'n bietjie te veel vir mense in sommige dele van die wêreld.
Warm en suur, soet en geurig: baie soos die kulture wat dit geskep het, bly Indiese disse kos vir die siel. Vra maar die koskenners van alle uithoeke. (Paloma Ganguly - Indo-Asian News Service)

Kategorie: