’n Uitstalling wat hulde bring aan die kunstenaar Konrad Zander is tot 27 Maart in die Fine Art Gallery op Swakopmund te sien. Zander, wat onder Johannes Blatt gestudeer het, is in 1920 in Windhoek gebore en is in Maart verlede jaar oorlede.
As ’n wildbewaarder by Etosha en boer in die Kamanjab-omgewing, het Zander ’n besondere kennis gehad van Namibië se wildlewe en kon hy die intieme, vreedsame aspekte van dierelewe vasvang. Hy het net ’n paar veë van die verfkwas benodig om die atmosfeer te skep.
In sy tekeninge het hy die wese van sy dieremodelle op spaarsamige wyse vasgevang en klem geplaas op die grasieuse element. Sy diere is sku en elegant; diere wat skugter rondom ’n watergat saamdrom, statige koedoes en swierige kameelperde.
Sy tekeninge, wat beslis van sy beste werke is, is ’n aanwins vir die plaaslike kunsbedryf en lewer ’n noemenswaardige bydrae tot Namibiese kuns. Navrae kan aan 081 277 3214 of fineart@gallery.com.na gerig word.