21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.08.2006

Honderd jaar in 'n neutedop

MET minder as 90 dae oor voor die amptelike honderdjarige feesvieringe van W. Meyer Optometrists en Adrian & Meyer Jewellers, beplan albei dié maatskappye in die komende weke verskeie geleenthede en spesiale aanbiedinge in die opbou na die groot viering.
Tydens die onlangse bekendstelling van dié geleenthede, wat deur die burgemeester van Windhoek, mnr. Matheus Shikongo, waargeneem is, het mnr. Rolf Adrian van Adrian & Meyer Jewellers 'n paar hoogtepunte van die twee ondernemings met genooide gaste gedeel.
Dit het alles in 1906 begin toe mnr. Wilhelm Meyer (gebore op 4 September 1880) 'n juwelierswinkel van 'n ene mnr. Brandt gekoop het wat toe geleë was waar die Sardinia-restaurant vandag is.
In 1913 het die besigheid verder noord in die destydse Kaiserstrasse getrek tot waar Standard Bank se hoofkantoor vandag geleë is. Tien jaar later het mnr. Meyer die naburige erf gekoop waar die Hotel Rote Erde destyds was. In die laat 1960's is die Metje Behnsen-gebou daar opgerig, wat vandag as die BPI-gebou bekend is.
In 1933 het mnr. Alfred Hübner, 'n horlosiemaker, goudsmid en oogkundige, na Namibië geïmmigreer om by mnr. Meyer te begin werk totdat hy in 1937 sy oogkundige studies in Berlyn en Londen gaan voltooi het. Nadat hy in 1939 weer na Namibië teruggekeer het, het hy mnr. Meyer se aanbod aanvaar om die onderneming oor te neem. Só het W. Meyer in besit van mnr. Hübner gekom en met 7 pond en 10 sjielings in die kas het sake begin. Mnr. Meyer is in 1946 in Duitsland oorlede.
Met die besigheid wat in Windhoek floreer het, het hulle in 1952 'n tak op Otjiwarongo geopen. In die laat vyftigerjare is die Otjiwarongo-tak aan Franz en Annelise Rahn verkoop en het dié naam tot die vroeë 1990's bly staan.
In 1957 het mnr. Peter Adrian sy horlosie-besigheid in die Continental-arkade geopen en het dit as Conti Watchmaker bekend gestaan. In 1963 het hy ook Adrian Jewellers by 'n nuwe perseel in Kaiserstraat geopen.
In 1956 het mnr. Hübner die Acme Corner oorkant sy perseel in Kaiserstrasse aangeskaf en twee jaar later daarheen getrek. Sy besigheid daar is later in twee verdeel, naamlik W. Meyer Jewellers en W. Meyer Optometrists.
In 1973 het die huidige eienaar van W. Meyer Optometrists, mnr. Klaus Hübner, sy studies in Rathenau, Duitsland, aangepak en daarna, tot 1977, oogkunde in Londen studeer.
Intussen, in 1978, het Adrian Jewellers 'n tweede winkel geopen, dié keer in die Levinson-arkade waar hulle gespesialiseer het in die vervaardiging van handgemaakte juwele.
In 1984, ná 45 jaar in die bedryf, handig Alfred en Irma Hübner hul besigheid oor aan die volgende geslag. 'n Neef, mnr. Peter Lowe, neem die onderneming oor, terwyl mnr. Klaus Hübner sake by die oogkundige oorneem.
In 1986 is mnr. Lowe egter tragies oorlede en op 1 September het mnr. Adrian, W. Meyer Jewellers oorgeneem. Terselfdertyd sluit hy die deure van sy hoofwinkel in die Continentalgebou. Die Adrian-egpaar het daarna die twee winkels met verskillende name, Meyer Jewellers en Adrian Jewellers, bestuur. 'n Jaar later sluit mnr. Rolf Adrian as gekwalifiseerde goudsmid by die maatskappy aan.
In 1991 het laasgenoemde as meester goudsmid in Duitsland gekwalifiseer en met sy terugkoms het hy die opleidingsprogram vir goudsmede vir die Juweliersvereniging, Jassona, op die been gebring. Tot nou toe het 19 Namibiërs op dié manier indiensopleiding ontvang.
In 1994 is mnr. Alfred Hübner oorlede. 'n Jaar later trek Meyer Jewellers van die Acme Corner sowat 70 meter suidwaarts (vandag onder die Spur), terwyl Meyer Optics hervestig na hul moderne winkel op hierdie perseel.
In 2001 het Adrian Jewellers in die Levinson-arkade onder die bestuur van me. Marlene Adrian, se deure gesluit en saamgesmelt met Meyer Jewellers om Adrian & Meyer - the Jeweller Shop te vorm.
'n Jaar later het mnr. Rolf Adrian as besturende direkteur oorgeneem nadat sy pa ná 45 jaar in die bedryf afgetree het.
W. Meyer Jewellers en sy takke was nog altyd in die hoofstraat (nou Onafhanklikheidslaan) geleë en maak dus 'n groot deel van Windhoek en veral die middestad se geskiedenis uit.
Tydens die bekendstelling van die geleenthede rondom die eeufeesvieringe het mnr. Shikongo hulde gebring aan die gesinne wat by albei maatskappye betrokke is.
"Vandag verteenwoordig Adrian & Meyer en W. Meyer Optometrists maatskappye van hoë gehalte, eintlik twee van die min oorblywende ondernemings in die oostelike deel van Onafhanklikheidslaan," het hy gesê.
As deel van die feesvieringe bied albei maatskappye tot 6 November verskeie geleenthede, promosies en spesiale aanbiedinge aan. Dit sluit in 'n diamantslyp demonstrasie wat van 7 tot 12 Augustus by Adrian & Meyer aangebied word.