21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

2.02.2012

Heil die leser... al die pad van Ruacana tot Rosh Pinah


Doc Immelman

Die immergroen Doc Immelman se nuutste boek, Ruacana tot Rosh Pinah, bestaan uit ’n keur van rubrieke wat tussen 1966 en 1996 in plaaslike koerante soos Die Suidwester, Tempo en Republikein verskyn het. Die byna sestig rubrieke in die boek wat oor ’n tydperk van sowat 40 jaar uit sy pen gevloei het, is soos hy in die voorwoord tereg sê: “’n Kroniek van ’n era en ’n leefwyse waarvan deesdae hoofsaaklik net herinneringe oor is”.

Die beeldryke vertelling van sy aankoms as Kapenaar in die Suidwes van 1950, gee die leser sommer binne die eerste bladsye ’n voorsmakie van Windhoek in daardie dae. Hy beskryf die stad se eg Duitse karakter en vertel hoe Kaiserstrasse destyds nog “atmosfeer” gehad het. Met die gebruik van Duitse woorde soos “Brötchen” (broodrolletjie), “Kaffee verkehrt” (koffie met melk), “Kaffee recht” (swart koffie) en “Kleine-Kleine” skets hy ’n Bäckerei- en bierkultuur wat vandag nog nou verweef is met sy landgenote se spys- en drankgewoontes. Die 83-jarige Immelman, wat benewens die rubrieke ook sowat 40 boeke, honderde kortverhale, vervolgverhale, artikels, reisbeskrywings en sketse die lig laat sien het, het soos baie mans in die land waar hy woon en wat hy in sy skryfwerk so treffend onder woorde bring, met baie dinge vrede.

“Net solank die jagseisoen in die winter open en die kabeljou volgende naweek begin loop.” Daarom kan jy verwag om saam met Immelman, wat lewe gegee het aan ’n karakter soos Kurt Mauser, by wildspore op die jagveld te hurk of ná ’n lang dag saans by ’n knetterende vuur in die veld na die jakkalse se gehuil te luister. Sy hengeluitstappie in 1969 saam met Stinkie Sternagel na Hentiesbaai in ’n Dodge-sedan oor ’n woestynpad wat “onhebbelik sleg” was, sal by baie van die ouer garde nostalgiese herinneringe oproep aan ’n tyd en ’n landskap wat in ’n groot mate vir die moderne moes opsy staan. In “Biltong: nie sommer sulke goed nie” kan die leser meedoen aan die glorieryke volkstradisie van biltong maak. Van Tant Mietsie wat glo jy moet jou biltonge met ’n houthamer slaan sodat dit goed kan kneus tot Tante Susanna wat glo die vleis moet vir ’n halwe dag in donkerte “rus” om goed droog te word voordat die mengsel speserye ingevryf word.

Tussen die blaaie van Ruacana tot Rosh Pinah skuil ook talle kleurryke en interessante mense. “…maar in daardie jare, soos nou nog, was Suidwesters maar altyd ’n bietjie snaaks vir mense wat nie hier woon nie.

Die land pas hom nie by die inwoners aan nie; maar die inwoners by die land,” skryf hy in “Sonderlinge karakters” (bl. 25) en onthou mense soos Henty van der Merwe, Sam Cohen, Ernst Luchtenstein, ou oom Gerhardus van der Walt, die Robbertses, mister Jack Morris en Ushona Shimii. In “Uitvindsel van die duiwel” gee Immelman ’n kostelike beskrywing van verskillende soorte plaashekke en wys dat sy rubrieke nie te kort skiet aan humor nie. Soos die volgende aanhaling getuig: “Dan kry jy nog die grootste onheiligheid, naamlik die konsertinahek oftewel die smoelslaner.

Hierdie welbekende (en welgehate) hek is deur die duiwel geprakseer en deur Saddam Hoessein geïmplementeer om die siele van goeie Christenmense te versondig.” Die reis van Ruacana tot Rosh Pinah is een wat Namibiërs – oud en jonk – nie moet misloop nie. Diegene meer gevorder in jare sal deur die nostalgiese terugblik ’n verkwiklike reis na die verlede onderneem terwyl jonger lesers op vermaaklike wyse insae sal kry in oupa/ ouma/pa/ma se leefwêreld van toentertyd.

Dit is ’n boek wat op die rak van elke Namibiër asook hulle met ’n verbintenis tot en liefde vir die land tuishoort. Daarom: Lectori Salutem. Mag die boek elke leser tot seën wees.