24.07.2008

Groot pret met Maranatha


Die bekende Maranatha Sangers bied Saterdag vanaf 10:00 ’n pretdag by die Hoërskool Dawid Bezuidenhout sportgronde aan. Hoogtepunt sluit in ’n potjiekoskompetisie tussen vier Windhoekse kore, naamlik die Maranatha Sangers, die Nedbank Sangers, Khoexa Khoen en die Unam Alumni-koor.

Boonop bied ’n verskeidenheid sportitems soos eier-en-lepelresies, sakresies, toutrek en nog vele meer, ’n program van vermaak vir die hele gesin en moedig die organiseerders kuiergaste om aan die sport deel te neem. Benewens die potjiekos is ander heerlike eetgoed soos braaivleis, kerrie en rys, koek, southappies, koffie, tee en koeldrank ook op die spyskaart. Die kinders kan baljaar op die springkasteel terwyl die grootmense in die tent ontspan.

Alle belangstellendes word genooi om hierdie lekker kuiergeleentheid saam met die Maranatha Sangers te geniet. Kom kyk hoe die kore op ander gebiede as sang gesellig met mekaar kan verkeer en word deel van ’n aangename ervaring na ’n stresvolle week. Die dag word afgesluit met ’n danskompetisie tussen die kore.