Goggagids - die geleedpotiges van Suider-Afrika

Neels JacksonVir enige natuurliefhebber behoort die Goggagids ?n welkome toevoeging tot sy of haar boekversameling te wees. Ek het boeke oor hoeveel ander groepe lewende wesens in die natuur: voëls, soogdiere, slange, paddas, vlinders, bome, aalwyne en meer, maar wat betref die wye verskeidenheid goggas, was die bronne nog maar altyd skraps.

?n Paar jaar gelede het Erik Holm baie gedoen om dié leemte te vul met sy Inseklopedie van Suider-Afrika. Die Goggagids is ?n susterpublikasie wat ander goggas as insekte dek. Dit sluit enigiets in van myte tot skerpioene en van duisendpote tot bosluise.

Byna die helfte van die boek word ingeneem deur Ansie Dippenaar- Schoeman se omvangryke kennis van spinnekoppe. Die Goggagids werk anders as die tipiese veldgids oor byvoorbeeld voëls wat hoofsaaklik op die uitkenning van spesies gerig is.

In hierdie groepe organismes is dit ?n onbegonne taak. Nie net is van die groepe nog nie volledig deur wetenskaplikes beskryf nie, maar daar is ook eenvoudig te veel goggas om elkeen afsonderlik te kan bespreek. So is daar byvoorbeeld sowat 200 soorte houtluise, 400 soorte duisendpote, 70 soorte bosluise, 130 soorte skerpioene en 2 600 soorte spinnekoppe in Suider-Afrika.

Hoewel die Goggagids ?n mens nie help om elke gogga tot op spesievlak uit te ken nie, doen dit baie meer as byvoorbeeld veldgidse oor voëls om ?n mens te help om die groepe diere te verstaan. ?n Mens kan byvoorbeeld nie net lees hoedat spinnekoppe hul sy spin nie, maar ook oor die wye verskeidenheid doeleindes waarvoor hulle die sy gebruik (en dit strek baie verder as die spin van webbe).

Onder opskriffies soos ?Verspreiding?, ?Gidsdrade, ankerdrade en valdrade?, ?Paring?, ?Kospakkies?, ?Vervelling? en nog meer kan ?n mens lees hoe die spinnekoppe hul sy in verskeie fases van hul lewe inspan. Daar word ook ?n hele paar bladsye aan spinnekopbyte gewy.

Daarin kan ?n mens onder meer lees oor die verskillende soorte gif wat spinnekoppe het, die simptome van spinnekopbyte by mense en die behandeling daarvan.

In ?n hoofstuk soos dié oor myte word ?n mens bekend gestel aan ?n groep goggas waarvan baie mense baie min weet, al kom daar 2 350 spesies van dié goggatjies in Suider- Afrika voor.

Die groot rede waarom Jan Alleman hul so sleg ken, is omdat hulle so klein is, gemiddeld sowat 0,2 mm lank. Die gids bevat ?n rits baie goeie foto?s wat ?n mens wys hoe dié vreemde, maar interessante wesentjies lyk. Dít terwyl ons gasheer speel vir van hulle wat op en in ons liggaam leef.

Holm skryf byvoorbeeld: ?Dit is nogal ?n aardige gedagte dat elke mooie meisie met sulke bywoners onder haar wimpers sit.?

Die Goggagids is ?n wonderlike boek. Dit is eenvoudig en helder geskryf (boonop in Afrikaans), met talle duidelike foto?s en illustrasies wat die teks toelig. Dis ?n maklike sleutel om ?n groot deel van die omgewing vir natuurliefhebbers te ontsluit.

- Beeld

Kategorie: 

Facebook kommentaar