21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.08.2009

Gobabis se Zulaboys wys hul slag



Die Zulaboys is ’n groep voormalige straatkinders wat aan ’n rehabilitasieprogram van die Early Intervention Programme (EIP) deelgeneem het en sodoende van die strate van Gobabis gehaal is waar hulle vir geld en kos gebedel het. En die goeie nuus is dat hulle volgende naweek hulle eerste CD in die hoofstad kom bekendstel! Meeste van die seuns is afkomstig uit enkelouer huishoudings en die lewe op die strate was rof.

Die kinders moes sterk wees om daar te oorleef. Die kleiner seuns moes noodgedwonge in groepe beweeg om hulself teen die groter seuns te beskerm wat hulle van geld beroof het of hulle gedwing het om betrokke te raak by kriminele aktiwiteite, soos inbrake en diefstal.

Die afgelope drie jaar neem die Zulaboys egter deel aan die EIP-projek en die twaalf seuns het stadig maar seker van hul straatgewontes begin afsien en die vooruitgang gemaak deur die uitvoerende kunste. Drama en musiek gee aan die seuns die geleentheid om hul talente te ontwikkel en hulself uit te druk. Dit leer hulle om saam te werk as ’n span en om mekaar te vertrou.

Die groep het in 2007 hul debuutoptrede in Gobabis en Windhoek gehou. In 2008 het hulle in die toneelstuk The Right Way in die Pakhuisteater opgetree. Vanjaar is die groep weer gereed om hul talente ten toon te stel deur ’n totaal nuwe vertoning waar hulle ook hul debuutalbum Chais Chais bekend gaan stel.

Die CD is in Maart en April vanjaar opgeneem en nege van die snitte is geïnspireer deur hul daaglikse ervaringe soos die lewe op die straat, in tronke, maar ook die liefde, kos en dans. Die lirieke is meestal deur die seuns geskryf en die musiek is deur ’n Hollandse vervaardiger, Ruben Muller, behartig.

Die liedjies is ’n opwindende mengsel van tradisionele en Westerse klanke en daar word gewissel tussen Engels, Afrikaans en Damara. “Chais Chais” beteken om vorentoe te kyk. Dit is dus ook ’n beroep op Namibiërs om die Zulaboys van nader te beskou.

Op 4 September 2009 word die CD aan Windhoekse gehore bekendgestel deur ’n vertoning waarin die liedjies gekombineer word met teateroptredes. Verrigtinge begin om 18:00 in die Zoopark en platejoggies van Fresh FM sal verseker dat gaste in die regte stemming sal kom om die vertoning te geniet. Chais Chais beloof om een van die opwindendste vertonings van die jaar wees en mag nie misgeloop word nie!