24.07.2008

Gids stel suide se blomme bekend


Hierdie volkleur fotografiese gids, geskryf deur vier Namibiese plantkundiges, Coleen Mannheimer, Gillian Maggs-Kölling, Herta Kolberg en Silke Rügheimer dek die suidwestelike hoek van Namibië, hoofsaaklik die suidelike Namib (Sperrgebiet), hoewel ’n paar van die algemene plantspesies wat so ver oos as die Visrivier voorkom, ook ingesluit is.

Die betrokke gebied is grotendeels ’n relatief ongerepte wildernis wat geologies en topografies baie veelsydig is en habitatte bied waar or- ganismes unieke meganismes ontwikkel het wat dit vir hulle moontlik maak om in hierdie harde gebied te oorleef. Dit huisves ’n unieke plantspesiekomposisie wat sowat 25 persent van die Namibiese flora as geheel (meer as 1 000 spesies) dek, onder meer verskeie endemiese en bykans endemiese spesies.

Meer as 350 spesies word in hierdie gids gedek. Die klem is op wild- blomme, maar ’n paar van die mees algemene varings, grasse, struike en bome word ook beskryf. Waar moontlik is foto’s van die hele plant gebruik, asook nabyskote van blomme. ’n Eenvoudige beskrywing van elke plant en ’n kort oorsig oor voorkoms, habitat en gebruike word verskaf, asook die algemene name wat in die gebied gebruik word.

Vir diegene wat in plante belangstel, sal hierdie handige gids dien as ’n uitstaande bron van fassinering en uitdaging. Verskillende spesies word van jaar tot jaar gesien afhangende van die reënval en om ’n wye verskeidenheid van die plante te sien, besoek entoesiaste die gebied weer en weer.

Die handleiding is geskryf vir enigiemand wat ’n belangstelling het in die inheemse flora van Namibië. A photographic guide to wildflowers of south-western Namibia (ISBN 978- 99916-0-878-5) is deur MacMillan Namibia gepubliseer en word versprei deur Demasius Publications (061 236 938). Dit is by meeste plaaslike boekwinkels beskikbaar.