13.01.2005 Fynbos vir 'n feeks deur Chanette Paul
"AS jy êrens in die lewe wil kom, bêre jou emosies, Chantal," het Alwyn haar vroeg al geleer. En die werk wat haar pa met sy harde hand ná haar ma se dood begin het, het Chantal van der Sandt self volvoer. Op amper twee en dertig is sy 'n skatryk en suksesvolle sakevrou, haar lyf is gimperfek, haar klere kom uit Parys en haar motor is die nuutste sportmodel. Én sy is 'n opperste feeks wat almal om haar regeer en manipuleer.
Tot 'n byna-beroerte haar noodsaak om vakansie te neem en sy gestrand raak op 'n afgeleë plaaspad waar sy met die onmoontlike Ezra Wasserman kennis maak. Want hy steur hom net mooi niks aan 'n Blink Stefanie vol feeksmaniertjies nie.
Chanette Paul publiseer sedert 1995 gereeld liefdesverhale. Haar werk verskyn ook gereeld in Sarie en Rooi Rose. Vir Maalstroom van ekstase het sy destyds die Perskorprys vir die beste hygroman ontvang. Sy woon op 'n klein dorpie in die Overberg en haar groot passies is skryf, lees, skubaduik en haar wit persiese kat, Vasti. Fynbos vir 'n feeks is haar eerste liefdesverhaal vir Satyn.
Fynbos vir 'n feeks (ISBN: 0624042316) is deur Satyn vrygestel en kos N$69,95.
|