2.02.2006 Fynbos uitgewis
DIE reeks vure wat groot gedeeltes van die Wes-Kaap, insluitend Tafelberg, verwoes het, het in alle waarskynlikheid talle spesies fynbos in die unieke Kaapse Blommeryk asook diere spesies uitgewis.
Hierdie stelling is deur 'n woordvoerder van die organisasie Working on Fire, gemaak.
Fynbos het deur die eeue heen ontwikkel en hoewel dit vuur nodig het om te oorleef en voort te plant, gaan die magdom vure wat nou voorkom beslis sy tol op dié unieke spesie eis.
Volgens kenners kan niemand nog sê wat die gevolge van die verwoestende brande gaan wees nie, net dat dit beslis die hele ekostelsel sal beïnvloed.
Erica en protea spesies is die plante wat in alle waarskynlikheid verlore is, maar "enigiets wat nie kan vlieg nie, is verlore."
Boonop is sommige insekte afhanklik van sekere plante om te oorleef of moet plante deur 'n sekere insek bestuif word.
Die fynbos van die Kaapse Blommeryk beskik oor Wêreld Erfenis-status en is talle spesies endemies tot die Wes-Kaap.
Benewens die herhaalde bosbrande, word die blommeryk ook deur uitheemse plante en globale verhitting bedreig.
In die onlangse brande is dit plante van vyf jaar of jonger wat vernietig is, wat die situasie vererger omdat dit nog nie saad kon skiet nie. Volgens kenners moet fynbos minstens agt jaar, maar nader aan 20 jaar oud wees, voordat dit brand.
|