Fantastiese verhale uit die Griekse mitologie

Oorvertel deur Pat Posner, geïllustreer deur Olwyn Whelan en vertaal deur Daniel Hugo

VIR die eerste keer in amper twintig jaar is verhale uit die Griekse mitologie weer in Afrikaans beskikbaar. Die stories in hierdie boek gaan oor die geboortes, die huwelike, vetes en stryery van die Griekse gode en godinne. Dit gaan ook oor nimfe, drake en ander magiese wesens. En moet nie van gewone sterflinge vergeet nie. Die Griekse gode en godinne het alte graag by hul lewens ingemeng. Soms was hulle goedgesind teenoor die mense en het selfs verlief geraak op hulle. Ander kere was hulle briesend en het hulle die mense kwaad aangedoen.
Rondreisende storievertellers het hierdie stories, wat mites genoem word, oorvertel terwyl hulle deur ou Griekeland getrek het. Daar is nie net één korrekte weergawe van die mites nie, omdat hierdie stories oor 'n lang tyd ontwikkel het soos wat hulle mondeling van geslag tot geslag oorgedra is. Tog het daar 'n paar belangrike literêre werke oor ou Griekeland tot stand gekom wat gehelp het om die mites te verewig. Homeros se Ilias en Odusseia, Hesiodos se Theogonia en Ovidius se Matamorphoses fokus al-mal op die basiese karakters en temas van die Griekse mitologie. Geskiedkundiges het ook uitbeeldings van dié stories op antieke vase, tempelgravures en ander artefakte gevind.
Fantastiese verhale uit die Griekse Mitologie is 'n versameling van ses pragtig geïllustreerde vertellings uit die klassieke verhaalskat. Dit is boeiend oorvertel in toeganklike prosa en sal beslis jong lesers vermaak en inlig oor die klassieke kultuur.
Fantastiese verhale uit die Griekse Mitologie (ISBN: 0798143886) is deur Human & Rousseau vrygestel en kos N$79,95.

Kategorie: