24.07.2008

Fanie word grootwildjagter

deur P.J. Schoeman

Hierdie is die tweede in die gewilde Fanie-trilogie en volg op Fanie se veldskooldae. Fanie is nou ’n bietjie ouer en sy pa reken dis tyd om hom alleen saam met die Zoeloes op ’n jagtog te stuur. Met ’n splinternuwe jaggeweer oor die skouer vertrek Fanie in die rigting van die Swart-Mfolozi. In hierdie ongerepte Bosveld moet Fanie groot besluite neem: ’n Goeie skoot of regte besluit kan die verskil maak tussen lewe en dood. Hartsake kwel hom ook.

Met die moontlikheid van oorlog tussen Boer en Brit wat swaar op sy skouers druk, moet hy kies aan wie sy hart gaan behoort: Die Engelse meisie, Jekkie, of Soekie, ’n Boerenooientjie. Soos die weke in die Bosveld verbygaan ontluik die wispelturige seun in ’n verantwoordelike jong man wat leer om na sy wyse Zoeloevaders te luister, Hlabisa en Lewies. P.J. Schoeman is op 20 September 1904 gebore. Hy verwerf ’n doktorsgraad in Volkekunde in Londen.

Daarna doseer hy Volkekunde aan die US maar tree in 1947 af om voltyds te skryf. In 1951 word hy aangestel as hoofveldwagter in Namibië. Sy eerste boek, Die swerwerjagter, verskyn in 1933. Hy het dertig boeke gepubliseer en is op 5 Julie 1988 op Stellenbosch oorlede. Fanie word grootwildjagter (ISBN: 9781869192204) is deur Protea Boekhuis vygestel. Dit word plaaslik versprei deur Demasius Publications (061 236 938) en is by meeste plaaslike boekwinkels te koop.