21.5.2012
 Argiewe:

Kollig


30 Bruidspare gekies


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.02.2010

Ervaar Damara-tradisie by Lewende Museum

© Francoise Steynberg
Die Damara-gids Hababi verwelkom Werner Pfeifer van die Living Culture Foundation Namibia by die Lewende Museum van die Damara.

’n Besoek aan die Lewende Museum van die Damara wat verlede naweek naby Twyfelfontein geopen het, is ’n unieke ervaring. Die museum bied besondere interaksie tussen die besoekers en die Damaras. Regoor die wêreld word tradisionele kulturele museums gevind, maar die Lewende Museum van die Damara is werklik ’n lewendige, eiesoortige ervaring waar die byna uitgestorwe kultuur en tradisie weer ten volle herleef.

Dit word gou duidelik dat die museum met ’n diep passie deur die Damaras begin is. Die museum is die inisiatief van hoofman Hans- Bernard Naobeb, ’n man met groot geesdrif vir sy tradisie en kultuur. Moenie hierdie stukkie kultuurjuweel tussen die koppies op die D2612- pad op pad na Twyfelfontein mis ry nie. Die opelug museum is geleë tussen die koppies wat spog met San-rotskuns.

Akkommodasie is naby die museum beskikbaar met die Twyfelfontein Country Lodge en die Aba Huab-kampeerterrein slegs enkele kilometers daarvandaan. By die ingang tussen twee rotswande word jy verwelkom deur die vriendelike gids, Hababi, in sy tradisionele Damara-velledrag. Hy lei jou na die kraal waar jy kan ervaar hoe die Damaras tradisioneel in pre-kolo- niale tye geleef het.

Hul hutte, hof, selfs hul bokkraal en hoenderhok kan besigtig word. Wat dit ’n ware lewendige belewenis maak, is wanneer aktiwiteite soos die maak van velledrag, geparfumeerde poeier uit plante (geberg in ’n skilpaddop), die ryg van krale, klipspele- tjies, vuurmaak, en selfs ystersmeewerk vir die maak van wapens, voor jou oë plaasvind.

Dan is daar nog die tradisionele sang- en dansitems. Die maak van die heilige vuur met stokkies is ook ’n hoogtepunt. Daar is ook ’n klein aandenkingwinkel waar tradisionele geskenke soos poppies, juwele van onder meer sade en bene en leersakke en -sandale spotgoedkoop gekoop kan word.

’n Unieke ervaring is die bosstaptog waar die Damaras vertel hoe om met plante en kruie voedsel, medisyne en parfuum te maak. Die mans wys jou hoe lokvalle vir diere gestel word en hoe hulle in die ou dae gejag het. Donkiekarritte kan ook onderneem word.

Tydens die amptelike opening is die storie agter die storie van hoofman Naobeb en die stigting van die museum opgehaal deur Bernd Böhmker, die hoofbestuurder van die Twyfelfontein Country Lodge waar hoofman Naobeb tot Oktober verlede jaar as portier werksaam was.

“Dit was sy droom en sy inisiatief en dit het drie jaar geneem voor die museum sy volle gestalte gekry het. “Hy het self baie daar ingesteek en die werkers uit sy eie sak betaal om die museum te voltooi,” vertel Bernd. Boonop het dit ook baie lank gevat vir goedkeuring van sy grondaansoek by die bewaringsgebied. Die Living Culture Foundation Namibia het ons baie gehelp,” vertel hoofman Naobeb.

Die stigting beywer hulle vir die vestiging van lewende kultuurmuseums en was ook betrokke by die stigting van die Lewende Jagtersmuseum van die Ju/ ’Huansi-San tussen Grootfontein en Tsumkwe. Vir ver- dere navrae en tariewe kan Hans-Bernard by 081 326 3669 geskakel word.