Die voormalige wenner van die NBC Musiekmakerskompetisie, Erich Mahau maak môre en Saterdag sy groot comeback, wanneer hy twee konserte in die Pakhuisteater aanbied. Die 33-jarige Erich is op Okahandja gebore en getoë. Sy lewe is ryk in kultuur, met sy oom Theodor wat ‘n dirigent en sanger was, en sy pa Hikuepi wat self ’n kranige sanger was.
Sy pa het ook in 1972 gehelp met die vertaling van die Bybel in Otjiherero. Teen hierdie agtergrond het Erich grootgeword met musiek. Op skool was hy ’n lid van die koor en nadat hy aangesluit het by die Soli Deo Gloriagroep, het al hoe meer deure vir hom geopen. Sy sangloopbaan het ’n hoogtepunt bereik toe hy in 2001 met ‘n NBC Musiekmakerstoekenning bekroon is vir sy liedjie “Tjevereje Hinga”.
Daarna het hy kragte saamgesnoer met Wille Mbuende voordat hy by die Sidadi-projek aangesluit het met ander bekende plaaslike sangers soos Patricia Ochurus. Dit was juis met Sidadi dat Erich die geleentheid gekry het om in Botswana, Swaziland en Suid-Afrika op te tree. Vandag spog hy met twee albums agter sy naam en werk hy aan ’n derde produksie wat eersdaags die lig sal sien.
Erich se inspirasie kom van bekende sangers soos Lucky Dube, Lady Smith Black Mambaso, Lionel Ritchie, die Manhattans, Teddy Pendergrass en Dobbie Gray – klanke wat ook in sy musiek bespeur word. Hoewel sy eerste liefde soul is, is sy stem so veelsydig dat hy selfs ’n paar reggae nommers kan uitvoer. Bekende liedjies soos “Panga randje”, “Lord is my Shadow”, “Malibongwe”, “Ouje Mbui”, “Okavare” en meer is op die program. Deure open om 20:00 en die konsert begin om 21:00. Dit word in samewerking met Tafel Lager en Rising Voices Productions aangebied. Kaartjies wat vooraf gekoop word by Universal Sounds of The Biltong Shop (Maerua Mall) kos N$35, en N$40 by die deure.