Enkelpyn kán verlig word

Enkelbeserings word veroorsaak deur sagteweefsel beserings, direkte trauma van die enkel of chroniese enkelpyn weens ’n geskiedenis van of herhaaldelike beserings met langtermyn komplikasies. Die mees algemene oorsaak van akute enkelpyn is verstuiting van die enkel, veral aan die buitekant. Dit veroorsaak pyn aan die buitekant van die gewrig.

Ander oorsake van enkelpyn is ook verstuiting na binne, trauma bv. ’n fraktuur, of ander sagteweefsel beserings. Akute enkelpyn kan gewoonlik verbind word aan ’n spesifieke besering en gaan dikwels gepaard met swelling rondom die enkel en bloeding in die weefsel. Akute enkelbeserings kan wissel van ligte beserings tot ernstige trauma wat die persoon verhoed om op die geaffekteerde voet te loop of te staan.

Die hantering van die besering in die akute fase is ’n sleutelaspek in die prognose van die besering. Die helingsproses en hersteltyd word deur die aanvanklike behandeling beïnvloed. Dit is dus uiters belangrik om dadelik aandag aan ’n enkelbesering te gee. Die regte advies en hulp kan by ’n fisioterapeut gekry word. Chroniese enkelpyn is meer gekompliseerd. Daar is selde ’n spesifieke besering of oorsaak van die pyn.

Die area of struktuur betrokke word gewoonlik nie gekenmerk deur swelling, pyn of bloeding nie. Chroniese enkelpyn kan op verskillende maniere ervaar word. Dit kan ’n spesifieke beweging of ’n sekere area in ’n beweging wees wat die pyn veroorsaak. Belyning van die been, verskille in beenlengte, aangebore siektes of gestremdhede, onvoldoende herstel van vorige beserings of chirurgie van die enkel en ander dele van die voet, is alles moontlike oorsake van chroniese enkelpyn.

Die biodinamika van die enkelgewrig is afhanklik van die mobiliteit, belyning en sinchronisasie tussen die strukture van die voet en enkel. Die dra van verkeerde skoene kan ook ’n bydraende faktor wees tot chroniese enkelprobleme. Spier wanbalanse rondom die enkelgewrig en voet is ook ’n algemene oorsaak van pyn.

In meeste gevalle word chroniese enkelpyn as onbehandelbaar en deel van die lewe beskou. Dit is gelukkig nie só nie aangesien chroniese enkelpyn goed reageer op die regte fisioterapeutiese behandeling. Kontak ’n fisioterapeut vir meer inligting oor hierdie toestand (in die telefoongids onder “Medical Listings”, bl. 92). Geen verwysing is nodig nie.

Kategorie: