Met hierdie boek in jou hand hoef jy nie meer in Britse of Amerikaanse bronne te soek vir goeie riglyne oor kwessies rondom Suider-Afrikaanse Engels nie. Geskryf deur ’n Suid-Afrikaner vir Suider-Afrikaners, illustreer John Linnegar op uitstaande wyse die grammatiese foute wat tipies deur Suider-Afrikaners begaan word en die invloed wat Afrikaans op Engels het in hierdie gebiede. Skryf ons “alot”, “a lot” of “allot”?
En wat van “all right” en “alright”? Gebruik ons ’n komma in Engels soos ons dit in Afrikaans doen? Hoekom is dit reg om te sê “I bought myself a dress” en nie “I bought me a dress” nie? Hierdie handige, geïllustreerde verwysingsbron is in twee afdelings gedeel: algemene grammatikale kwessies en woorde wat deurmekaar maak; en ’n alfabetiese lys van problematiese alternatiewe.
Die model wat die boek volg, is om aandag te vestig op die probleem of die “reël”, om dit met goeie voorbeelde te illustreer en daarna, waar van pas, een of twee voorbeelde van die verkeerde woordkeuses te gee om oor te dra presies wat lesers in Suid-Afrikaanse Engels moet vermy.
Hierdie is ’n handige naslaangids vir alle Suider-Afrikaners wat hullself korrek in Engels wil uitdruk. John, ’n opgeleide hoërskoolonderwyser, is bykans 30 jaar al aktief betrokke in die publikasiebedryf as subredakteur, proefleser, tegniese skrywer en bedryfsredakteur.
In Oktober 2000 het hy sy eerste kursus in kopieredigering en proeflees aangebied en daarna het kursusse in verskeie vorms in die openbare en private sektore gevolg. Engleish, our Engleish (ISBN: 9781868901029) is deur Pharos gepubliseer. Dit kos sowat N$130.