Die Egiptiese rock-opera Sobhi & Friends gaan vanaand die mure van die Nasionale Teater behoorlik laat dreun! Vanaand voer Sobhi Bidair, Sadek Gallini en Nayer Nagui – almal hoog aangeskrewe musici in die Egiptiese musiekbedryf – ’n verskeidenheid rock, soul en pop liedjies uit wat strek van treffers van die veertigerjare tot die nuutste snitte in Engels, Italiaans, Frans, Spaans en Portugees.
Die groep sing selfs ’n paar operaliedjies soos uitgevoer deur wyle Luciano Pavarotti en Andrea Bocelli. Sobhi & Friends word aangebied as deel van die Egiptiese Nasionale Dag, wat op 23 Julie herdenk word. Die produksie is ’n voortvloeiing van die teater se pogings om uitvoerende kuns-vennootskappe met ambassades in die land aan te gaan. Kaartjies wat vooruit gekoop word kos N$40 en N$50 by die deure. Dit begin om 20:00. Loketure is Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 14:00 en 15:00 tot 17:00, en Saterdag van 09:00 tot 12:00.